Nuuskommentaar: Ramaphosa se mooipraatjies maar net verkiesingsbeloftes
Dit is 30 jaar ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing – ’n verkiesing wat heelwat Suid-Afrikaners hoop gegee het. Vanjaar is dit weer tyd om ’n kruisie by die stembus te gaan trek en daar kan met reg gesê word dat die hoop van 30 jaar gelede nie meer bestaan nie.
Die land het dringend ingrypende verandering nodig en dit behels ’n verandering in leierskap en hoe die land bestuur word. Al hoe meer Suid-Afrikaners besef ook hulle kan nie meer op die regering staatmaak nie; selfdoen en saamwerk is gemeenskappe se enigste oplossing vir vooruitgang en groei.
Suid-Afrikaners het verlede week na die beloftes (eintlik kan ’n mens seker maar sê leuens) van pres. Cyril Ramaphosa geluister tydens sy jaarlikse staatsrede en daar kan tereg gesê word dat hy in ’n droomwêreld verkeer waarin hy mense steeds wil oortuig om vir die ANC te stem. Terwyl Ramaphosa oor ’n groeiende ekonomie gepraat het, bloei duisende sakeondernemings en sukkel mense daagliks om kop bo water te hou.
Boonop is fase 6-beurtkrag ingestel enkele ure nadat Ramaphosa aangekondig het dat dit een van die dae iets van die verlede gaan wees. Alhoewel dit gerieflik uit ANC-geledere beskou is as sabotasie, kan dit veel eerder toegeskryf word aan die jarelange gebrek aan instandhouding en korrupsie.
Die grootskaalse korrupsie in die regering en staatsondernemings het tot algehele verval gelei en munisipaliteite het in baie gevalle geen of baie min kapasiteit en hulpbronne om dienste doeltreffend te lewer. Daarom moet Suid-Afrikaners self begin inspring om hul gemeenskappe te verbeter.
Ramaphosa het in 2023 belowe dat die regering sterk standpunt teen korrupsie gaan inneem. Die teendeel is egter waar. Suid-Afrika het die swakste nog gevaar in die Corruption Perceptions Index. Alvorens daar nie daadwerklik teen korruptes in regeringsfere opgetree gaan word nie, gaan sake slegs vererger.
Misdaad in die land het toegeneem – nóg ’n belofte van 2023 se staatsrede wat nie gerealiseer het nie – en die vlak van wetteloosheid in die land is ysingswekkend. Ramaphosa het ook met die polisiediens gespog en al is daar enkele polisielede wat hulself uitstekend van hul taak kwyt, is misdaad steeds buite beheer. Luidens ’n verklaring van AfriForum was die land se moordkoers vir die 2022/2023-boekjaar die hoogste nog met 45 moorde vir elke 100 000 mense. Dié burgerregteorganisasie hou vol dat gemeenskappe hulself binne die raamwerk van die wet moet beskerm en beveilig.
Tydens vandeesweek se staatsrededebat het Fanie du Toit, Vryheidsfront Plus-LP, daarop gewys dat die ANC-regering afhanklikheid verhoog het weens werkloosheid en armoede. Nog beloftes van 2023 waarvan daar dadels gekom het. Werkloosheid en armoede het die hoogte ingeskiet en pleks daarvan dat die regering sakeondernemings toelaat om self te besluit wie hulle wil aanstel, word ondernemings deur raswette gedwing om die “regte” kandidaat aan te stel eerder as die gekwalifiseerde kandidaat.
Vandeesweek word daar oor die staatsrede gedebatteer, maar dit wil voorkom asof heelwat parlementslede net soos Jan Burger, slegs negatiewe opmerkings oor die staatsrede het. Ramaphosa se mooipraatjies word ook maar net as verkiesingsbeloftes beskou om die ANC-regering se baanrekord beter te laat lyk. Een ding is egter seker al kry Suid-Afrika vanjaar nuwe leiers vanuit opposisiegeledere gaan dit jare neem om die agteruitgang van die afgelope 30 jaar uit te wis. Gemeenskappe gaan ook hande moet vat en toegelaat moet word om self moue op te rol om te help om staatsverval uit die weg te ruim.