|

Nuuskommentaar: Nuwe wetgewings ’n benoude poging van ANC om vertroue by kiesers te wen

Benoude katte maak benoude spronge. Dit is die gesegde wat heeltyd opkom wanneer daar aan die ANC en aanstaande jaar se verkiesing gedink word. AfriForum, Solidariteit, ander organisasies en politieke partye het die afgelope tyd sterk teenkanting getoon teenoor wetgewing wat die ANC-regering wil deurvoer of reeds goedgekeur het.

Die wette wat die afgelope tyd baie in die nuus was, is onder meer die omstrede nasionale gesondheidsversekering (NGV), die voorgestelde regulasies ingevolge die Wysigingswet op Billike Indiensneming (die raswet), die beoogde veranderings aan waterwetgewing, die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette oftewel die BELA-wet, en die onteieningswetsontwerp (B23 – 2020).

Indien ’n mens mooi oplees oor hierdie wette en die impak wat dit op Suid-Afrika gaan hê, is dit baie duidelik dat slegs ’n handjie vol mense daarby gaan baat en dat dit ook korrupsie nog verder gaan vererger. Tog hou die ANC-regering aan om hierdie radikale wette deur te druk.

Alhoewel die regering se poging om artikel 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid te maak in 2021 reeds misluk het, probeer die ANC weer om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak met die Onteieningswetsontwerp (B23–2020). Dié keer is dit nie net op grond van toepassing nie, maar kan enige eiendom soos byvoorbeeld ’n selfoon of motor onteien word. AfriForum werp alles in die stryd om hierdie radikale wetsontwerp, wat vernietigende gevolge vir die ekonomie inhou, teen te staan.

Heelwat dokters en ander gesondheidswerkers het lank voordat die parlement NGV goedgekeur het, aangedui dat hulle bekommerd is oor hoe dit geïmplementeer gaan word en ook dat hulle, indien NGV in werking tree, eerder gaan emigreer. Die regering wil met NGV gesondheidsorg sentraliseer sodat daar gelyke sorg vir almal is, maar gaan parlementslede werklik staatshospitale besoek indien hulle mediese sorg nodig het of eerder na ander lande reis om behandel te word? Boonop gaan die belastingbetaler nog meer moet opdok om gesondheidsorg vir almal te verseker. Volgens Solidariteit is die blote gedagte dat die staat mag oor jou gesondheid het, uiters kommerwekkend.

Solidariteit kon danksy ’n nege maande lange bemiddelingsproses waarin die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ’n toesighoudende rol gespeel het, die regering keer sodat ras nie as die enigste maatstaf gebruik mag word wanneer werknemers aangestel word nie. Die ooreenkoms wat Solidariteit en die regering op 28 Junie onderteken het, gaan nou deel uitmaak van die diensbilikheidsregulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer gaan word en steek gelukkig ’n stokkie voor die Wysigingswet op Billike Indiensneming. Maatskappye gaan nou verplig wees om werknemers op grond van hulle kwalifikasies aan te stel eerder as op grond van ras.

Tydens ’n onderhoud met John Steenhuisen, leier van die DA, vroeër die jaar het hy die nuwe raswetregulasies as ’n verkiesingsfoefie beskryf en AfriForum meen die NGV is net nóg een van die lugkastele wat die ANC-regering gebou het met die doel om stemme te werf. Dit laat ’n mens wonder of hierdie en die ander wette wat die regering wil bekragtig nie ook deel is van die ANC se plan om vertroue by kiesers terug te wen nie. Die vraag is egter of dit sal slaag aangesien Suid-Afrikaners van alle rasse reeds keelvol is vir die regering se verskonings vir swak dienslewering en korrupsie.

Soortgelyke plasings