|

Nuuskommentaar: Nasionale Gesondheidsversekering: Eerder hofnar as ridder

Die inligtingsbrosjure oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) op die regering se webblad laat hierdie plan vir gesentraliseerde gesondheidsorg na iets uit ’n utopiese wêreld klink. Volgens hierdie brosjure gaan NGV oor ubuntu “ons almal sorg vir mekaar as ’n nasie in tye van nood” en dat dit “hoë gehalte gesondheidsorg aan almal” sal kan bied. Dit klink byna of die regering met hierdie fantastiese plan die nasie te hulp gaan snel soos ’n wafferse ridder op ’n wit perd – behalwe dat dit eintlik ’n houtperd is en onder die helm kruip die hofnar toe al die tyd weg.

Teenstaanders en kritici van NGV word gewoonlik uitgekryt as elitistiese kapitaliste wat die beste sorg vir hulself wil hou terwyl mense wat nie mediesefondse kan bekostig nie tevrede moet wees met gesondheidsorg wat veel te wense laat. Die inligtingsbrosjure laat dit klink asof mense neusoptrekkerig is oor die idee dat hulle “in rye moet wag om in ’n vuil staatshospitaal gesien te word” terwyl die eintlike bekommernisse en vrae gewoon nie in die brosjure se twee bladsye beantwoord kan word nie.  Die filantroop binne my wil die beloftes glo dat staatshospitale wesenlik opgegradeer sal word om nie net op die oog af op dieselfde standaard as privaathospitale te wees nie maar dat die gehalte gesondheidsorg ook op dieselfde standaard gaan wees sodat alle Suid-Afrikaners daarby kan baat. Die realiteit is egter dat dit nie uitvoerbaar is nie – veral nie in Suid-Afrika nie.

Die ANC-regering se baanrekord met gesentraliseerde dienste behoort die vertrekpunt te wees wanneer ondersoek na nóg ’n gesentraliseerde diens ingestel word.

Dit is wensdenkery om oortuig te wees dat die ANC, wat nie eens entiteite soos Eskom, Denel en SAL aan die gang kon hou nie, nou skielik in staat gaan wees om ’n gesondheidsdiens van miljarde rande effektief te kan bestuur. Die blote feit dat daar tot op hede nog nie duidelikheid is oor watter dienste presies deur NGV gedek gaan word en watter nog deur privaat mediesefondse betaal gaan word nie gee reeds ’n aanduiding oor die chaos wat Suid-Afrikaners te wagte gaan wees indien hierdie wetgewing deurgedruk word.

Daarbenewens stem dr. Joe Phaahla, die Minister van Gesondheid, en Nicholas Crisp, hoof van die NGV, se oggend- en aandpraatjies glad nie ooreen nie. Volgens Phaahla is die bewerings dat belasting verhoog gaan word om NGV te finansier “ongegrond” – hoewel daar van persone wat ’n inkomste verdien “verwag word om ’n bydra te lewer”. Crisp het nou weer ’n ander deuntjie gesing en tydens ’n voorlegging gesê dat addisionele belasting later nodig sal wees om NGV te befonds hetsy dit deur verhoogde BTW of algemene belasting gaan wees.

Die olifant in die vertrek is egter die regerende party se voorliefde vir kaderontplooiing en hul korrupte neigings wat gereeld kop uitsteek.

Grootskaalse wanbesteding van fondse tydens die hoogtepunt van die Covid-19-pandemie behoort ook die gevaarligte te laat flikker. As fondse wat vir gesondheidsdienste aangewend moes word tydens een van die grootste krisisse wat ons in baie jare moes deurmaak eerder gebruik is vir uitermatige bemarkingsveldtogte en om buitensporige bedrae te betaal vir die ontsmetting van skole dan moet ons onsself begin staal vir wat vir ons wag wanneer NGV die groen lig kry.

Intussen is dit ’n geskarrel om die wetgewing wat NGV moontlik gaan maak op alle vlakke deurgedruk te kry. AfriForum het op 1 Desember 2022 ’n brief aan President Cyril Ramaphosa gestuur om hom op terme te plaas oor hierdie wetgewing en die organisasie voer aan dat NGV oor die langtermyn onbekostigbaar gaan wees. Daarbenewens laat dit ook ruimte vir nog wanbstuur en korrupsie wat so kenmerkend van die ANC-regering is. Die proses om hierdie wetgewing by die Nasionale Vergadering en die Raad van Provinsies deurgevoer te kry, sal na verwagting in 2023 hervat word.

Soortgelyke plasings