Nuuskommentaar: Minister Angie Motshekga herontdek die wiel – oftewel waarom moedertaal tel
Tydens ’n nuuskonferensie oor die jongste verwikkelinge in die basiese onderwyssektor, het minister Angie Motshekga tot die ontdekking gekom dat moedertaalonderrig belangrik is en dat Afrikaanse skole ’n voorbeeld in dié verband stel. As dit nie so ironies was nie, sou ’n mens moontlik kon lag daaroor dat sy dit soos ’n nuutgevonde brokkie inligting moet aankondig.
Vir meer as ’n dekade lank al is onderwys- en taalkenners, organisasies soos AfriForum en selfs taalaktiviste voortdurend besig om die feite onder die onderwysdepartement se aandag te bring. Deurentyd word betoog vir beide die behoud van enkelmedium Afrikaanse skole en die uitbreiding van die moedertaalaanbod in die ander inheemse tale van die land.
Wat die ander tale aanbetref, gee Motshekga darem nou toe dat kinders in die Oos-Kaap wat 12 jaar lank alle onderrig in hulle moedertaal, Xhosa, ontvang het, dramaties beter presteer as ’n eweknie groep wat alle onderrig deur middel van ’n tweede taal, Engels, ontvang het. Hierdie groep Xhosaleerders wat deurentyd gemoniteer is, het hopelik vir die regering help bewys dat moedertaalonderrig nie ’n politieke foefie of uitsluitingsmeganisme is nie, maar ’n noodsaaklike onderdeel vir die aanbied van uitnemende onderrig aan die jeug van die land. Hierdie feit word nie net deur hulle en Afrikaanse leerders gestaaf nie, maar deur alle leerders wêreldwyd wat die internasionaal erkende mensereg van moedertaalonderrig geniet.
Motshekga se kommentaar is ironies om twee redes. In die eerste plek, omdat sy al male sonder tal aankondigings gemaak het oor die uitbreiding van moedertaalonderrig in meer Suid-Afrikaanse tale, maar dat die implementering daarvan oor die algemeen agterweë bly. Die groep in die Oos-Kaap het bewys dat dit kan geskied, met of sonder die hulp van die departement.
Die tweede rede het spesifiek met Afrikaans te make. Op 21 Mei vanjaar, met die aankondiging van die Gautengse skoleplasingstelsel vir 2024, het dié provinsie se LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, verduidelik dat enkelmedium Afrikaanse skole uitgefaseer moet word. Alle skole moet volgens hom dubbel- of parallelmedium onderrig aanbied. Weer is die ou mite dat mense net sal leer om saam te werk as hulle saam in een klas sit, as regverdiging gebruik, so asof daar nie gereeld botsings en geweld in dubbel- en parallelmediumskole plaasvind nie. In Chiloane se betoog was daar geen waardering vir die bydrae wat Afrikaanse skole tot die land se onderwyslandskap lewer nie.
Minister Motshekga se nuutgevonde waardering vir Afrikaanse skole het waarskynlik te make met die kritiek wat sy en haar departement op die hals gehaal het toe die Progress in International Reading Literacy Study (beter bekend as PIRLS) se bevindings in Mei 2023 aangekondig is. Dit het aangetoon dat Suid-Afrikaanse kinders se begripsleesvernuf veel slegter is as dié van leerders in die ander 56 lande wat aan die peiling deelgeneem het. Dat 81% van die Suid-Afrikaanse graad 4-leerders wat in 2021 getoets is, nie met begrip kon lees nie, is ’n reuseskande, maar dié syfer sou waarskynlik nog veel slegter gewees het as enkelmedium Afrikaanse skole nie deel van die navorsing was nie.
Die minister en departement moet net nog verder uit internasionale voorbeelde leer dat enkelmediuminstellings onontbeerlik is. Dubbel- of parallelmediumonderrig lei onvermydelik tot enkelmediumonderrig in die sterkste van die twee tale, wat in die geval van Suid-Afrika altyd Engels sal wees. Die spoed verskil van skool tot skool, maar die uitkoms is dieselfde. Ten spyte daarvan getuig alle enkelmedium openbare Afrikaanse skole van departementele druk om Engelse onderrig te begin aanbied.
In ’n brief oor haar ervaring met ’n dubbelmediumskool, skryf ’n ouer onlangs aan AfriForum: “Waar die onderrig aanvanklik vyftig, vyftig sou wees, begin die ongelykheid van onderrigtaal ongelukkig nou van só ’n aard word in hierdie skool dat Afrikaanse onderrig minder as 30% is, teenoor die res wat Engels is. Ons Afrikaanssprekende kinders betaal die verlangde skoolfonds maar baie … nee, die meeste klasse, word in Engels aangebied omdat die oorgrote meerderheid kinders nou in Engels onderrig moet word. Ons Afrikaanssprekende kinders se onderrigwêreld word al hoe kleiner en gevaarliker. Dit voel of hul beperkte regte tot onderrig het, bloot as gevolg van hul taal.”
Hopelik sal die insig dat Afrikaanse skole ’n bate is, en dat moedertaalonderrig noodsaaklik is, hierdie keer vir Motshekga en haar departement aanspoor om die aanbod van enkelmediumonderrig in meer tale uit te brei. Tot dit gebeur, is die kans dat die land se onderwysprestasies noemenswaardig gaan verbeter, skraal, en gaan die jeugwerkloosheidsyfer wat 46,5% in die eerste kwartaal van 2023 was, nie sommer daal nie.