Nuuskommentaar: Migrasie-uitdagings en wysigings aan die Suid-Afrikaanse immigrasiewetgewing
In aanloop tot die verkiesing is migrasie een van die kwessies wat heelwat aandag geniet. Van die kandidate maak uitlatings wat gevaarlik na aan xenofobie klink, terwyl ander Suid-Afrikaners frustrasies met die land se swak grensbeheer verwoord.
In dié opsig verskil die land nie veel van die res van die wêreld nie. Met moderne openbare vervoer wat migrasie vergemaklik, uitdagings om grense doeltreffend te bestuur, arbeidsbehoeftes, internasionale kompetisie vir skaars vaardighede en kennis, asook die netelige kwessie van verpligtinge (al dan nie) teenoor vlugtelinge uit lewensbedreigende omstandighede, bly die hantering van migrante wêreldwyd in die kollig.
Onlangs het twee voorstelle vir wetswysigings plaaslik die lig gesien. Die eerste was die Witskrif op Burgerskap, Immigrasie en Vlugtelingbeskerming. Daarna het die Tweede Konsep vir die Wysiging van die Immigrasie Regulasies, 2014 gevolg. In beide gevalle kon die publiek daarop kommentaar lewer. AfriForum was een van die vele instellings wat van die geleentheid gebruik gemaak het.
Die witskrif se fokus was veral op meer doeltreffende grensbeheer. Dit het begin met die erkenning dat die Departement van Binnelandse Sake nie goed vaar in dié opsig nie, wat die noodsaak aan beter wetgewing beklemtoon. Van die kwessies wat geïdentifiseer is, is dat Suid-Afrikaanse burgerskap tans té maklik verkry kan word, en dat mense die opsie om vir vlugtelingstatus aansoek te doen, onder meer vir ekonomiese redes uitbuit.
’n Witskrif is bloot ’n breë uiteensetting van wat met nuwe wetgewing beoog word, en nog nie die wetsontwerp self nie. Gevolglik is die aanduidings van presies hoe die departement van Binnelandse Sake hierdie kwessies wil aanpak, nog onduidelik.
Dit maak wel baie staat op die werksaamhede van die Grensbestuursowerheid (Border Management Authority of BMA) wat in 2022 nie-amptelik en 2023 amptelik met hulle werksaamhede begin het. Hulle het in Januarie vanjaar bekendgemaak dat hulle oor die Kerstyd sowat 27 000 voornemende onwettige immigrante gekeer het om die land binne te kom. Die vraag is hoe betroubaar die owerheid se personeel is en hoeveel mense by hulle verbygeglip het.
Met betrekking tot asielsoekers is ’n positiewe voorstel in die witskrif dat die “eerste land”-beginsel voortaan ook in Suid-Afrika moet geld. Dit behels naamlik dat iemand wat om vlugtelingstatus aansoek wil doen, nie deur enige lande mag reis en daarna eers plaaslik om vlugtelingstatus mag aansoek doen nie. Hierdie beginsel word reeds in verskeie Eerste Wêreldlande toegepas, maar nog nie in Suid-Afrika nie. Dit volg ná ’n hofsaak in 2023 wat gehandel het oor die reg van 22 Afghane om deur Zimbabwe of Zambië na Suid-Afrika te reis om hier om vlugtelingstatus aansoek te doen. Hulle het aanvanklik as toeriste van Afghanistan na Zimbabwe gevlieg. Indien die “eerste land”-beginsel aanvaar sou word, sal soortgelyke asielsoekers dan byvoorbeeld in Zimbabwe moet aansoek doen en daar bly, en nie die reg hê om bloot deur Zimbabwe te reis om in Suid-Afrika aansoek te doen nie. Dit behoort opportuniste af te skrik of hulle te dwing om eerder die normale roete met ’n immigrasie-aansoek te volg.
Die wysigings wat aan die regulasies voorgestel word, is daarenteen duideliker en lyk selfs positief. Onder meer sal mense wat op grond van skaars vaardighede en kwalifikasies om werkspermitte wil aansoek doen, moet bewys dat hulle by toepaslike professionele liggame geregistreer is. Verder word ruimer voorsiening gemaak vir kapitaalkragtige migrante wat afstandwerk verrig om vanaf Suid-Afrika te kan werk met ’n sogenaamde “digitale nomadepermit”. Enigeen wat meer as R1 miljoen per jaar verdien, sal hiervoor kan aansoek doen. As hulle langer as ses maande in Suid-Afrika vertoef, sal hulle ook verplig wees om by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens te registreer. Hierdie vergunning is iets waarvoor daar al lank voorspraak gemaak word, aangesien die mense se verblyf in Suid-Afrika groot finansiële voordele kan inhou, sonder dat hulle enigsins met die plaaslike arbeidsmag meeding.
Kommentaar op die voorgestelde wysigings aan die regulasies het aan die einde van Maart 2024 gesluit en tyd sal leer of dit wel so aanvaar word, asook of die uitkoms daarvan inderdaad positief vir die land sal wees.
Wat egter seker is, is dat wetgewing geen verskil sal maak aan swak dienslewering nie. Solank die politieke wil ontbreek om lui, korrupte of oneffektiewe personeel aanspreeklik te hou, gaan die beste wetgewing ter wêreld niks verander aan die vele frustrasies wat lede van die publiek, insluitend migrante, ervaar nie.
Die Departement van Binnelandse Sake se swak kommunikasie met die publiek (veral ook deur diplomatieke missies in die buiteland) en lang wagtye nadat aansoeke ingedien is, skrik kapitaalkragtige en hoogsgeskoolde voornemende immigrante af, terwyl die poreuse grense van die land dit steeds vir ongeskooldes moontlik maak om bloot in die land in te stap en in die samelewing te verdwyn.
Naas die genoemde pogings om beter wetgewing daar te stel, moet die privatisering van meer dienste van die departement oorweeg word, en sal gemeenskappe self moet inspring om grense te beveilig, soos wat buurtwagte van AfriForum reeds verskeie jare lank al doen.