Nuuskommentaar: Julle moet bly wees vir geen beurtkrag sê Eskom
Eskom fluister definitief nie stilletjies dat Suid-Afrika al vry is van beurtkrag vir 114 aaneenlopende dae nie. Die kragreus gebruik eerder elke geleentheid om dié prestasie vir die wêreld te skree. Wat Eskom nie wil hê die publiek moet weet nie, is dat die “prestasie” nie heeltemal akkuraat nie. Terwyl Eskom beurtkrag vir meer as 100 dae opgeskort het, het hulle hul toevlug geneem tot geteikende lasvermindering in sekere areas weens netwerkoorlaaiprobleme.
Lasvermindering verskil van beurtkrag siende dit in spesifieke hoë risiko areas geïmplementeer word tydens spitstye wanneer die vraag die hoogste is, dikwels as gevolg van elektrisiteitsdiefstal en swaar gebruik. Dit het gelei tot langdurige onderbrekings in geaffekteerde areas, wat in wese ’n vorm van ongeskeduleerde beurtkrag is. Eskom implementeer glo dié lasvermindering om hul infrastruktuur te beskerm wanneer die aanvraag die hoogste is. Dit behels die tydelike vermindering van elektrisiteitstoevoer in spesifieke areas gedurende spitstye, ’n ander vorm van beurtkrag. Eskom voer aan dat ongeveer 94% van die oorbelaaide transformators in die land te wyte is aan onwettige praktyke soos elektrisiteitsdiefstal, insluitend onwettige verbindings aan die netwerk. Ander redes sluit in diefstal van netwerk toerusting, vandalisme, meter omleidings, peutering, ongemagtigde netwerk aktiwiteite en die aankoop van elektrisiteit van onwettige verkopers. Hoewel Eskom probeer om hierdie probleme te takel deur gemeenskappe op te voed oor veilige elektrisiteitsverbruik en onwettige aansluitings te verwyder, bly die situasie uitdagend en lei dit steeds tot ongeskeduleerde kragonderbrekings in die geaffekteerde areas.
Munisipaliteite is verplig om hul tariewe aan te pas op grond van die koste wat hulle met Eskom aangaan, wat deur die nutsmaatskappy se bedryfsdoeltreffendheid en die betroubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening beïnvloed kan word. As Eskom sy huidige prestasie behou en afhanklikheid van duur diesel opwekking verminder, soos aangedui deur ’n aansienlike vermindering in diesel uitgawes, kan dit die tariewe vir munisipaliteite stabiliseer of verlaag. Omgekeerd, as lasverminderingsmaatreëls voortduur of as Eskom operasionele uitdagings in die gesig staar, sal munisipaliteite dalk tariewe moet verhoog om hul koste te dek.
Boonop kan die voortdurende kwessies van elektrisiteitsdiefstal en oorlading van infrastruktuur tot verdere finansiële implikasies vir beide Eskom en munisipaliteite lei. Aangesien Eskom werk om sy energiebeskikbaarheidsfaktor (EBV) te verbeter en onbeplande onderbrekings te verminder, is die hoop dat dit sal lei na meer stabiele pryse vir munisipaliteite, wat uiteindelik tot voordeel van verbruikers sal wees. Die verhouding tussen Eskom se operasionele suksesse en munisipale tariewe bly egter kompleks en afhanklik van verskeie faktore, insluitend die volhoubaarheid van Eskom se herstel planne en die voortdurende uitdagings van onwettige elektrisiteitsverbruik.
Dit is geen geheim dat Eskom verdagte steenkool- en dieselkontrakte met verskaffers het nie en dit is grootliks waarom die kragreus verwoed veg om dié kontrakte uit AfriForum se hande te hou. Eskom se voortgesette pogings om die inligting geheim te hou, herbevestig die kragvoorsiener se taktiek van geheimhouding en om alles in die stryd te werp om te keer dat die volledige inligting oor die betrokke kontrakte openbaar gemaak word. Ten spyte van Eskom se trotse “prestasie” oor beurtkrag, is die kragvoorsiening steeds onbetroubaar gegewe die swak toestand van sy infrastruktuur. Eskom kan sy prentjie so mooi inkleur soos hy wil, as die struktuur van die portret swak is, sal die krake wys ten spyte van die mooi kleure.