Nuuskommentaar: Graaff-Reinet of Sobukwe? Naamsverandering laat die tonge klap
Wat is in ’n pleknaam? Dit hang af wie jy vra. Vir party is ’n pleknaam ook die geskiedenis van die betrokke plek. Dit is die mense wat was, is en nog gaan wees – hoe mooi of lelik dit ook al dalk mag wees. Vir ander is dit sinoniem met onderdrukking en uitsluiting. Hoe dit ook al sy, ’n pleknaam kan nie net lukraak verander word omdat party mense daardeur geaffronteer voel nie.
Die aansoek om Graaff-Reinet se naam te verander na Sobukwe – vernoem na wyle Robert Sobukwe wat op dié dorp gebore is – het hierdie week weer opnuut die inwoners van hierdie dorp warm onder die kraag gemaak. Dit blyk dat Graaff-Reinetters grotendeels gekant is teen hierdie naamsverandering veral omdat dié dorp, soos talle ander, gebuk gaan onder swak dienslewering. Ironies genoeg het die regerende party ook al beweer dat naamsveranderinge juis sal bydra tot goeie dienslewering. Die bewyse daarvoor ontbreek egter.
Die voormalige minister van Sport, Kuns en Kultuur, Nathi Mthetwa, het op ’n keer gesê dat dit nodig is om plekname met ’n koloniale of apartheid konnotasie te verander om sodoende die land op die pad van genesing te plaas. Dit sal dalk beter wees as die regering besluit om op die “genesing” van dienslewering in hierdie geskiedkundige dorpe te fokus.
Naamsveranderinge is nie ’n eenvoudige proses nie, dit is verskriklik duur en daar is byna geen ekonomiese voordeel wat hierdie kostes regverdig nie. Dit blyk dat impakstudies vir hierdie tipe prosesse deur onafhanklike partye onderneem word en nie deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur nie. Die ekonomiese impak op plaaslike ondernemings, die toerismebedryf en selfs die munisipaliteit word dus nie in berekening gebring wanneer daar besluit word of ’n dorp se naam verander moet word al dan nie. Toe Fort Beaufort en Somerset-Oos se name in 2023 verander is, het dié departement gesê dat ’n kostebepaling nie gedoen is vir hierdie naamsveranderinge nie aangesien dit deel van ’n “begrote mandaat” is.
Die ANC wil historiese plekname verander onder die vaandel van eenheid en vryheid, terwyl hulle eintlik ’n slagoffermentaliteit het waarin hulle almal vandag nog wil herinner aan die onderskeid tussen die sogenaamde onderdrukkers en onderdruktes. Hulle staar hulself so vas in die verering van anti-apartheidsaktiviste dat hulle nie die pleidooi hoor van landelike gemeenskappe waar krane nou al vir maande droog is, waar riool deur die strate loop en die ligte byna permanent af is nie.
Historiese helde moet vereer word, maar hulle nalatenskap moet nie verswelg word deur politiek nie. Hulle moet vereer word, maar nie ten koste van gemeenskappe wat die slagoffers van swak dienslewering is nie en nie ten koste van die reeds oorbelaste belastingbetaler nie.
Deur historiese figure te gebruik om ’n politieke agenda te bevorder skep die regering net verdere verdeeldheid omdat mense onder mekaar stry oor hoekom die name verander moet word of nie. Maar mense op voetsoolvlak se krane gaan nie skielik water hê as hulle dorp na ’n anti-apartheidsaktivis vernoem word nie. Paaie gaan ook nie skielik slaggatloos wees nie en beurtkrag gaan ook ongelukkig steeds nie iets van die verlede wees nie. Dit is tyd dat gemeenskappe voet neersit en aandring op beter dienslewering eerder as om toe te kyk hoe die regering hulle as politieke speelbal gebruik.