Nuuskommentaar: Geen wenners in Rusland-Oekraïne-konflik
Russiese president Wladimir Poetin het die wêreld geskok deur op 24 Februarie sy leër te beveel om die Oekraïne binne te val. Die volskaalse inval in die Oekraïne het gevolg op die Kremlin se erkenning van die Donetsk en Loehansk republieke in die Ooste van Oekraïne op 21 Februarie en die stuur van troepe na die streek. Poetin se militêre handeling toon ’n blatante minagting van die Boedapest-memorandum (1994) waarvolgens die Oekraïne se grense vasgelê en wedersyds erken is. Ten spyte van die bestaan van die memorandum, het Poetin sy siening oor die afgelope weke duidelik gemaak dat die Oekraïne tot die Russiese invloedsfeer behoort. Hy grond hierdie siening op ‘n argument dat die Oekraïne ‘n beperkte geskiedenis van onafhanklikheid voor 1991 het en gevorm is deur die arbitrêre wyse wat grense tydens die Sowjetunie getrek is.
Rusland en Oekraïne het op die rand van oorlog gekom ná die sogenaamde Revolusie van Waardigheid wat in 2014 plaasgevind het as gevolg van die Oekraïniese president Viktor Yanukovych se weiering om ’n samewerkingsverdrag met die Europese Unie te onderteken. Hierna het gewelddadige betogings regoor die Oekraïne uitgebreek en Yanukovych is uit sy amp verwyder. Die revolusie het ook aanleiding tot pro-Russiese demonstrasies in die Ooste van Oekraïne en die Krim gegee. Dit het uiteindelik tot die anneksasie van die Krim gelei wat deel van Rusland geword het. Poetin argumenteer dat die anneksasie van die Krim in 2014 nie teenstrydig met die Boedapest -memorandum was nie, aangesien daar ‘n “revolusie” in die Krim plaasgevind het, en dat die gebied dus nie meer deel van die Oekraïne uitgemaak het nie. Rusland voer ook aan dat die 2014 revolusie vanuit die Weste georkestreer is en op ‘n onwettige staatsgreep neerkom. Daarenteen voer die Weste aan dat Poetin, na afloop van die revolusie, die opstande in die Ooste van Oekraïne en op die Krim ondersteun het om hierdie gebiede binne te val en deel van Rusland te maak. Poetin se verklarings vir sy optrede om verlede Donderdag die hele Oekraïne in te val, is egter bisar en irrasioneel. Ná die inval van 24 Februarie het hy aangevoer dat die “spesiale militêre operasie” ten doel het om Russe van “volksmoord te red en Oekraïne te denazifiseer.”
Rusland het eenvoudig nie die hulpbronne om ‘n uitgebreide militêre besetting van Oekraïne te handhaaf nie. Die Russiese roebel het reeds as gevolg van ingestelde sanksies op Maandag 28 Februarie tot ‘n algehele laagtepunt teenoor die Amerikaanse dollar geval en die beplande sanksies sal verdere katastrofiese gevolge vir gewone Russiese burgers meebring. Hierbenewens is dit onrealisties om te verwag om ‘n land te beset waar die oorgrote meerderheid van die bevolking van 44 miljoen heftig teen die besettingsmag gekant is. As Rusland van voorneme is om die Oekraïne te regeer of ‘n marionet-regime in te stel, sal dit onvermydelik lei tot ‘n bogrondse en ondergrondse opstandbeweging wat die Oekraïne onregeerbaar sal maak.
Daar is beslis ook deur die Weste ‘n reusefout begaan deur Rusland nie na die val van kommunisme te omarm nie. Dít het die teelaarde vir die opkoms van ‘n leier soos Poetin geskep. Die Weste se mislukkings kan egter nie Poetin se aksies regverdig nie. Met die oorlog in die Oekraïne het Poetin net daarin geslaag om Rusland in ‘n paria-staat te omskep. Op die ou end sal daar geen wenners in hierdie oorlog wees nie. Die mense van Rusland sal ly as gevolg van sanksies en oorlogskostes, terwyl die Oekraïense volk verder alles sal verloor wat vir hulle dierbaar is.