|

Nuuskommentaar: Gebrekkige jeugdeelname in munisipale verkiesings dui op ontnugtering in die demokrasie

Enkele ure voor die stembusse in 2019 vir die nasionale verkiesing geopen het, was die hutsmerk #IWantToVoteBut gewild op Twitter en ’n duidelike aanduiding van jongmense se groeiende frustrasie en ontnugtering oor verkiesings.

Drie jaar later blyk dit dat nie veel verander het nie.

Terwyl die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) die registrasiegetalle vir vanjaar se munisipale verkiesings as ’n sukses wil verkoop, skets die sowat nege miljoen stemgeregtigde Suid-Afrikaners (waarvan die meeste jongmense tussen 20 en 29 jaar oud is) en wat nie geregistreer het nie, ’n heeltemal ander prentjie.

Na jare van swak dienslewering, swak onderrig, hoë profiel korrupsieskandale in die regering, swak ekonomiese groei, werkloosheid, armoede en ongelykheid, trek jongmense ’n streep deur nie hul kruisie te trek nie.  

Dit is te verstane dat party jonges voel dat hul kruisie geen verskil in die voorspelbare uitslae van nasionale verkiesings maak nie, maar munisipale verkiesings is juis die geleentheid om ‘n groter sê in hul direkte omgewing te hê, soos gesien toe die ANC in die 2016 munisipale verkiesings net 53% van die stemme gekry het. Wat keer jonges dan?

Dit wil voorkom asof die jeug, minder as 30 jaar nadat mense letterlik gesterf het vir die reg om te mag stem, meer vertroue in onluste as stembusse het. Kan ’n mens hulle blameer? Na jare van swak dienslewering, swak onderrig, hoë profiel korrupsieskandale in die regering, swak ekonomiese groei, werkloosheid, armoede en ongelykheid, trek jongmense ’n streep deur nie hul kruisie te trek nie.  

Hul groeiende wantroue en gebrekkige deelname aan verkiesings dui op hul totale ontnugtering in die regering, politieke partye en demokrasie. Al wat hulle sien en hoor is leë beloftes wat op niks uitloop nie.

Hoewel uitdagings met die OVK se aanlynregistrasieplatform en hul reputasie rakende bedorwe stembriewe nie juis help om jonges by die stembus te kry nie, meen kenners soos Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes Universiteit (NWU), dat die OVK nie alleen die skuld kan dra nie. Volgens hom moet politieke partye hul “oumenspolitiek” staak en jonger kandidate aanstel om politiek meer aantreklik vir die jeug te maak.

Die paar politieke partye wat wel hul 2021 manifeste al bekendgestel het, het egter wéér die jeug as ’n kernelement uitgelaat. Terwyl werkskepping ‘n algemene manifes-tema was, spreek baie van die boodskappe en beloftes nie jongmense se probleme aan nie.

Terwyl sommige kenners dikwels aanvoer dat die jeug se gebrekkige deelname aan verkiesings ‘n teken van apatie is, is dit egter nie ’n teken van gebrekkige politieke deelname nie. Die jeug het die afgelope paar jaar keer op keer vir die regering gewys dat hul ander (en gevaarliker) politieke uitlaatkleppe het en dat hulle nie bang is om dit te gebruik om hul stem só te laat hoor nie. Dink maar aan onluste by skole en die gevolge van die #FeesMustfall-veldtog.

Is daar egter ’n alternatief? Jongmense kan en lewer reeds op baie ander maniere positiewe bydraes in hul direkte omgewing deur hul betrokkenheid by gemeenskapsorganisasies en plaaslike forums. Ondanks die land se uitdagings is dit egter ook belangrik om te onthou dat stemreg ’n reg én grondwetlike verantwoordelikheid is wat nie ’n realiteit vir almal in die wêreld is nie. Dink dus mooi wat jou stem kan beteken voordat jy op 1 November eerder inlê of braai as om te gaan stem.

Soortgelyke plasings