|

Nuuskommentaar: Egoïstiese Lindiwe Sisulu maak nou vyande sover sy gaan

Lindiwe Sisulu se ongevraagde kritiek en aanval vandeesweek op die Grondwet, die regbank en die oppergesag van die reg het haar nie net die argwaan van waarnemende hoofregter Raymond Zondo op die hals gehaal nie, maar ook ’n stortvloed kritiek uit uiteenlopende oorde en die burgerlike samelewing tot gevolg gehad.

Uit reaksie op sosiale media is dit duidelik dat Sisulu met haar tirades besig is om haar hand te oorspeel.

Dit is egter nie die eerste keer dat die huidige minister van toerisme in die spervuur is nie. In haar 21 jaar as kabinetsminister van onder meer intelligensie (2001 -2004), behuising (2004 -2009), verdediging (2009-2012), staatsdiens en administrasie (2012 – 2014) menslike nedersettings (2014-2018), internasionale betrekkings en samewerking (2018-2019), menslike nedersettings, water en sanitasie (2019-2021) en toerisme (2021 tot nou) het sy talle blapse begaan en van die een mislukking na die volgende gestrompel.

Die hele wêreld sien deur haar en haar selfgesentreerde ego.

Waar Sisulu in die verlede weggekom het met belaglike en militante uitsprake en aanvalle op mense en instellings het Zondo haar egter vandeesweek vasgetrap en haar stellings ten sterkste veroordeel. Haar uitlatings word as roekeloos en skokkend bestempel en selfs die regering distansieer hom daarvan.

Dis egter ’n ope vraag of dit Sisulu van stryk gaan bring. Dit is duidelik dat sy haar by die kamp van oudpres. Jacob Zuma en die RET-faksie skaar en dat haar enigste dryfveer en ideaal is om self president van die land te word. Hopelik sal pres. Cyril Ramaphosa en sy gevolg se invloed sorg dat dit nie gebeur nie.

Om terug te keer na Sisulu se veelbewoë verlede het sy ook telkemale gewys dat sogenaamde transformasie om armes op te hef vir haar bloot lippediens is. Die hele wêreld sien deur haar en haar selfgesentreerde ego.

Sisulu het ook al in die verlede nie geskroom om die raskaart te speel nie.

In 2012 was sy in die spervuur toe sy in die parlement beskuldig is dat sy openbare hulpbronne misbruik. Dit het aan die lig gekom dat sy toe sy minister van verdediging was miljoene rande bestee het om ’n private Gulfstream-straler te gebruik om tussen Pretoria en Kaapstad te reis. Sy het die straler sowat 200 keer gebruik teen ’n koste van R200 000 per keer.

Toe die DA-LP David Maynier haar hieroor gekonfronteer het, het sy gesê hy moet sy “vlooigesteisterde” liggaam (flea-infested body) vat en sit wat tot konsternasie tydens die sitting gelei het.

In 2017 was sy in die spervuur toe sy weke voor die ANC se leierskonferensie ’n uitlating oor Zuma en die verkragtingsaak teen hom in 2006 gemaak het. Sy het toe gesê sy glo Fezekile “Kwezi” Kuzwayo “glo” dat sy verkrag is en dat daar ’n “misverstand” in die debakel was. Kuzwayo is intussen dood.

Sisulu maak nie ’n geheim daarvan dat sy ’n Zuma-lojalis is nie. Sy het ook al kritiek teen regsoptrede teen hom uitgespreek.

Sisulu het ook al in die verlede nie geskroom om die raskaart te speel nie.

In 2021 het sy, toe minister van menslike nedersetting, water en sanitasie, gesê onverwerkte riool wat in die strate afvloei en in waterstelsels beland, is witmense se skuld en dat hulle nie daaroor moet kla nie.

Dis ook Sisulu wat in 2018, kort ná ’n skakeltoer van AfriForum na die VSA om bewustheid oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding te skep, uitgevaar het en die organisasie daarvan beskuldig het dat hulle “blatante leuens” en “vals inligting” oor Suid-Afrika versprei. Dit het tot ’n klag teen haar gelei wat by die Verenigde Nasies ingedien is.

Sisulu het Suid-Afrikaners ook in 2021 omgekrap toe sy besluit het om 24 Kubaanse ingenieurs teen ’n koste van R65 miljoen na die land te ontbied. Sy het aangevoer dit is nodig omdat Suid-Afrikaanse ingenieurs nie wil help nie.

Solidariteit het toe met regstappe oor die invoer van Kubane begin en ‘n lys van 132 plaaslike ingenieurs wat sou kon help aan haar gegee.

Sisulu het ook al haar skerp tong teen partylede ingespan. In 2017 het sy Gwede Mantashe, nasionale voorsitter van die ANC, beskuldig dat hy die party verdeel en geen geloofwaardigheid het nie. Sy het sy betrokkenheid in die stryd teen apartheid bevraagteken en gevra waar hy was toe hulle vir vryheid geveg het.

Sisulu is openlik besig om haar as die RET-kandidaat vir die ANC-leierskap te posisioneer. Interessante tye lê voor in aanloop tot die ANC se verkiesingskongres in Desember vanjaar en dit is te wagte dat Sisulu waarskynlik tot dan net nog meer uitgesproke sal raak.

Soortgelyke plasings