Nuuskommentaar: Drie beweerde staatskapers nou LP’s
Suid-Afrika se politici sorg dikwels dat landsburgers net hulle koppe in ongeloof kan skud wanneer die land se regeerders hoofopskrifte in die media haal.
Vandeesweek het drie beweerde staatskapers weer die nuus gehaal – nie omdat hulle uiteindelik hulle finale dag in die hof gehad het nie, maar omdat hulle as lede van die parlement beëdig is.
Dié drie lede van die omstrede MK-party – Brian Molefe (voormalige hoof van onder meer Eskom), Lucky Montana (voormalige hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika, Prasa) en Siyabonga Gama (voormalige Transnet-hoof) – is almal by die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping betrek vir beweerde bedrog en korrupsie.
Molefe is op 29 Augustus 2022 in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met korrupsie en bedrog by Transnet ten bedrae van miljoene rande. Presies twee jaar later is Molefe nog nie (on)skuldig bevind op hierdie klagte nie en dien hy nou weer in die parlement.
Gama is ook in 2022 in hegtenis geneem op aanklagte van korrupsie en geldwassery. Hy en Molefe het volgens die staatskapingverslag ook noue bande met die omstrede Gupta-familie gehad.
Alhoewel Montana nie amptelik aangekla is nie, het hy volgens die Zondo-verslag ’n belangrike aandeel gehad in die kaping van Prasa.
Nog ’n MK-lid wat vandeesweek die nuus gehaal het, is dr. Sifiso Maseko, die MK-party se nuwe sekretaris-generaal. Hy verdien sedert 2022 miljoene rande terwyl hy by die huis sit sedert hy by die Gautengse Departement van Gesondheid geskors weens beweerde finansiële misdrywe tydens die Covid-19-pandemie.
In ’n geskrewe parlementêre antwoord het die Departement van Staatsdiens en Administrasie verlede jaar bekend gemaak dat geskorste staatsamptenare in die eerste kwartaal van die 2023/2034-boekjaar R128 miljoen se salarisse getrek het terwyl hulle nie ’n vinger verroer het om hierdie geld te verdien nie.
Indien die geld in die sake waarby Molefe en kie na bewering betrokke was, asook die reusagtige bedrae wat geskorste amptenare se salarisse die staatsdiens kos, vir die regte sake aangewend word, kon die land nou al soveel beter af gewees het.
Alhoewel mense onskuldig is totdat hulle skuldig bevind word, moet ander reëls dalk vir die land se leiers geld.
Dit is uiters skandalig dat diegene wat reeds verdink word van miljoene rande se korrupsie en bedrog weer toegelaat word om naby aan staatskoffers te kom. Molefe, Montana en Gama het reeds bewys dat hulle nie bevoeg is om die land korrupsievry te dien nie.
Miskien het dit tyd geword dat behoorlike riglyne daar gestel word wat bepaal dat diegene met hangende korrupsie- of ander sake teen hulle nie toegelaat mag word om die land te regeer nie.