|

Nuuskommentaar: Die toekoms van klein skole en hulle leerders duister

Die aankondiging van die nuwe kabinet het by vele optimisme oor verbeterde staatsdienste geskep. Die toekoms sal leer of dit die geval sal wees. Een van die aanstellings wat aandag trek, is dié van die nuwe minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube. Nie alleen erf sy die omstrede Bela-wet wat nog deur die president onderteken mag word, of na haar departement terugverwys mag word nie, maar ook ’n hele kas vol geraamtes.

Een hiervan is die lot van klein skooltjies wat weens dalende leerdergetalle in die spervuur is. Ten spyte daarvan dat die departement een van die grootste onderwysbegrotings (as persentasie van die nasionale begroting) in die wêreld kry, is daar voortdurend ’n behoefte aan besparings. In 2024 bedra hierdie begroting  R303 miljard, maar oplossings word gesoek om dit te rek.

Die minimum norme en standaarde vir openbare skole se infrastruktuur wat op 28 Mei vanjaar in Die Staatskoerant gepubliseer is, deel laer- en hoërskole in vier kategorieë in, naamlik mikro-, klein-, medium- en megaskole. Mikroskole word gedefinieer as laerskole met ruimte vir minder as 135 leerders en hoërskole met plek vir minder as 200 kinders.

Die LUR vir Onderwys in die Oos-Kaap, Fundile Gade,  het onlangs aangekondig dat sowat ’n duisend mikroskole in dié provinsie gesluit sal word, of met ander skole sal moet saamsmelt, omdat dit “te klein is om lewensvatbaar te wees”. Hy voeg by dat hy die instellings nie eens as skole beskou nie, want dit is te klein – asof grote gelykstaande aan gehalte is!

Die gevolge van hierdie sluitings vir die gesinne wat dit raak, en hulle breër gemeenskappe kan vernietigend wees. Leerders kan hulle toegang tot moedertaalonderrig verloor. Dan beloof die provinsiale onderwysdepartemente byvoorbeeld ook vervoer na die skole wat die kinders nou moet bywoon, maar is berug vir wanbetaling wat dan tot gevolg het dat vervoer gestaak word. Die ouers het dikwels ook nie fondse om self vervoer te voorsien, of kinders in koshuise te plaas nie. Die kans dat van die kinders nie verder sal skoolgaan nie, is dus groot.

Bowendien is van die bestemmingskole in die groter sentra reeds oorvol. Nie net in Gauteng en die Wes-Kaap was ’n groot aantal kinders aan die begin van 2024 nog nie in openbare skole geplaas nie, maar ook in ander provinsies styg die getalle van leerders sonder skole. Aan die begin van Junie was daar in die Nelson Mandelabaai-gebied byvoorbeeld verskeie kinders wat in 2024 nog glad nie skoolgegaan het nie en berigte dat skole reeds verby maksimum besetting is. Terwyl meer skole nie vinnig gebou word nie en verstedeliking toeneem, gaan dit die toedrag van sake bly.

Intussen byt plattelandse kinders die spit af, in plaas daarvan dat modelle ondersoek word om mikroskole lewensvatbaar te bestuur en daardeur landelike gemeenskappe lewenskragtig te help hou.

Met hierdie en ander krisisse wat die nuwe minister en haar departement in die gesig staar, wens ons haar, ter wille van die toekoms van ons jeug, sterkte en sukses toe.

Soortgelyke plasings