|

Nuuskommentaar: 2023: Waak jaloers om funksionele skole te behou en teen ideologiese aanslae te beskerm

Luister hier na die artikel:

Die nuwe skooljaar het vandag begin. Vir baie kinders is dit ook die eerste tree op die pad van hulle skoolloopbane.

Ten spyte van die Departement van Basiese Onderwys se versekering dat alle plasingskrisisse feitlik uitgesorteer is, is daar steeds ouers wat nie weet waar hulle kinders gaan skoolgaan nie, of wie se kinders om onverklaarbare redes in skole ver van hulle woonadresse af geplaas is. Hierdie probleme duik die afgelope dekade aanhoudend op en word vererger deur aanlyn plasingstelsels wat onsekerheid oor die prosesse wat gevolg word, laat toeneem.

Veral in Gauteng en die Wes-Kaap groei die aanvraag vir skole jaarliks skerp. Gauteng se berugte skoleplasingstelsel laat ouers, ouerbeheerliggame en personeel by skole met die hande in die hare. Oproepe van vele organisasies wat ten nouste by onderwys betrokke is dat die plasingsproses soos in die verlede deur skole self hanteer moet word, word geïgnoreer en konsepwetgewing soos die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (beter bekend as die Bela-wet) maak dit duidelik dat die staat eerder sy mag oor hierdie prosesse wil uitbrei, as om besluitneming in die hande van gemeenskappe self te laat.

Verder is die voorsiening van voldoende skole ’n uitdaging wat die staat duidelik nie by magte is om te hanteer nie. Waar tenders toegeken word vir die bou van skole of aanvullende klaskamers, word kontrakteurs en subkontrakteurs dikwels nie betaal nie, of is die gehalte van die werk soms nie op standaard nie. Bouwerk sloer en ontwikkeling hou nie tred met die groeiende aanvraag nie.

Van die oplossings wat die departement volg, is dat meer kinders in skole ingedruk word, wat hulle veiligheid en die gehalte van die onderrig wat hulle ontvang, kompromitteer. Tydelike klaskamers wat voorsien word, is ook geen oplossing nie, aangesien dit die druk op die infrastruktuur in skole verhoog en dikwels op die lang duur permanent gebruik word.

Hierdie uitdagings word deur politici uitgebuit om kunsmatige brandpunte by funksionele skole te skep, soos wat sedert Maandag weer by Laerskool Danie Malan in Pretoria gesien word. Van die betogers daar eis dat meer Engelse klasse by die skool geskep word, maar die skool is reeds vol, ongeag wat die taalbeleid is wat dit volg. Ook elders word taal en ras gebruik as verskoning waarom kinders nie geplaas word nie, in plaas daarvan dat die voorsiening van voldoende werkende infrastruktuur en die omswaai van wanfunksionele skole bekyk word.

Dit is duidelik dat volhoubare modelle vir privaat onderrig toenemend ontwikkel sal moet word. Instellings soos die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Die MOS Inisiatief werk aan sodanige oplossings wat hoop skep vir ’n toekoms waar departementele rompslomp, onbeholpenheid en korrupsie nie langer ons kinders se toekoms sal kan bedreig nie.

Gemeenskappe moet self betrokke by die onderwys van hulle kinders raak. Waar funksionele openbare skole bestaan, moet jaloers gewaak word teen die inname van ’n oormaat leerders. Infrastruktuur moet in stand gehou word en teen ideoloë en vandale beskerm word. Lakse onderwysers moet aanspreeklik gehou word. Ouers moet bereid wees om aan ouerbeheerliggaamverkiesings deel te neem en daarin te dien. Die vennootskap tussen die gemeenskap en die personeel moet heg en gesond wees, sodat skole die hart van ons gemeenskappe bly.

Ons kinders is te kosbaar om hulle toekoms aan iemand anders toe te vertrou.

Soortgelyke plasings