|

Nuuskommentaar: Selfdoen is steeds beter as niksdoen

Munisipale verval het nou al ongekende vlakke in die land bereik en dienslewering in verskeie dorpe en stede bestaan amper nie meer nie. AfriForum probeer waar moontlik ’n daadwerklike verskil maak deur self skoon te maak, op te knap en te herstel. Die nuwe bestuur van die Tshwane-metro dink egter blykbaar dis beter om niks te doen nie eerder as wat mense in hulle eie woonbuurte probeer help waar hulle kan.

AfriForum het in Maart vanjaar, terwyl die metro deur ’n DA-koalisie bestuur is, ’n memorandum van verstandhouding met die metro onderteken wat AfriForum in staat stel om te help wanneer die metro nie sekere take kan verrig nie. Sekere AfriForum-takke in Pretoria het juis buurtspanne wat daagliks help om hierdie werk te doen.

Die metro het teen die einde van September in die hande van die ANC, ActionSA en EFF geval en sedertdien het AfriForum se samewerkingsooreenkoms in die spervuur gekom. Godwin Ratikwane, EFF-hoofsweep in die metro, het die afgelope naweek in ’n onderhoud met Rapport dit duidelik gemaak dat AfriForum se samewerkingsooreenkoms met die metro hersien moet word. Die nuwe burgemeester, Nasiphi Moya, het ook verlede week aangekondig dat al die metro se samewerkingsooreenkomste nou nagegaan sal word. In die metro se kommunikasie hieroor word AfriForum se ooreenkoms, wat blykbaar veral met valkoë dopgehou word, uitgesonder.

Ratikwane voer in die Rapport-onderhoud aan dat die nuwe bestuur in die Tshwane-metro by magte is om die ooreenkoms aan te pas. Dit is waar. Hy voer egter ook aan dat AfriForum se samewerkingsooreenkoms, in sy woorde, op die dun lyn van rassisme lê en minderheidsbelange bevoordeel. En dit is juis die kwessie van minderheidsbelange wat Ratikwane dwars in die krop steek. Dít terwyl talle reëls en wette wat die ANC-regering ingestel het, uitsluitlik daarop gemik is om minderheidsgroepe uit te sluit.  Vreemd genoeg wil Ratikwane nie hê dat minderhede iets vir hulself doen nie. Volgens hom mag hulle beslis nie enige munisipale dienste lewer nie. Dit pla hom skynbaar nie dat die dienste, waarvoor belastingbetalers die munisipaliteit betaal, ook nie gelewer word nie.

Dis iets wat Ratikwane gerieflikheidshalwe vergeet. So ook hou hy buite rekening dat AfriForum al jare lank sterker bande met ander kultuurgemeenskappe, insluitend die Zoeloes en Barolong Boo Seleka van Thaba’Nchu, bou en dat wedersydse erkenning en respek as hoekstene van dié verhoudinge dien.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, en Koning Misuzulu KaZwelithini van die Zoeloes

Terwyl mense soos Ratikwane stoom afblaas en links en regs kritiseer, stuit dit nie AfriForum se werk nie. AfriForum is reeds in proses om verdere samewerkingsooreenkomste met ander munisipaliteite aan te gaan om sodoende sterker gemeenskappe te bou. Daar is dus baie ander gemeenskappe buite Pretoria wat ook wil moue oprol en ’n verskil maak. Dit maak hulle nie rassiste nie, maar eerder selfdoeners en dis beslis beter as Ratikwane en die ander rooipetniksdoeners.


Soortgelyke plasings