| |

Noord van die berg-tuinspan Pretoria-Noord se helde

Die tuinspan van AfriForum se Noord van die berg-tak het gedurende Augustus reusewerk gedoen om Pretoria-Noord te verbeter. In dié maand is 2 436 swartsakke vol vullis opgetel, 61 vragte rommel is weggery, 10 hektaar gras is gesny en altesaam 891 km is gery om al hierdie werk gedoen te kry.

Die tuinspan maak maandeliks die Pretoria-Noord-stadsaal se terrein skoon en verskeie paaie, insluitend Delia-, André- en Francoisstraat asook die hoek van Azaleaweg en Bokmakieriestraat. Hulle ruim ook gereeld die volgende parke op: Monumentpoort, Wolmer, Suur Klapper, Hasie, Tsessebe, Dolfyn, Hippo en die park in Bokserstraat. Die span het ook die Heldeakker-begraafplaas onder hande geneem.

Buiten dié gebiede waarop die tuinspan fokus, het hulle in Augustus ook die Tshwane-metro gehelp om dele van Sinoville op te ruim.

“AfriForum sal aanhou om ons gemeenskappe te help waar die regering of munisipaliteit misluk. Ons poog om hoop in gemeenskappe te skep deur projekte aan te pak wat ’n daadwerklike verskil in die area maak,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by AfriForum se Noord van die berg-tak betrokke: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings