Noord van die berg-tak gryp in ná Tshwane-metro se pleidooi oor stormwaterdreine
AfriForum se Noord van die berg-buurtspan het gedurende November onverpoos gewerk om agt stormwaterdreine in dele van Pretoria-Noord skoon te maak ná vrese oor die impak wat verstopte dreine op paaie het wanneer dit reën. Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het onlangs ’n beroep op inwoners gedoen om nie huishoudelike afval in stormwaterdreine te stort nie, aangesien onwettige storting stormwaterdreine verstop en veroorsaak dat paaie oorstroom wanneer reën toesak.
Hierdie AfriForum-buurtspan het skouer aan die wiel gesit om te verseker dat die blokkasies in stormwaterdreine so gou moontlik verwyder is. Die buurtspan het veral sy aandag op die stormwaterdreine in Rachel de Beer- en Grafenheimstraat toegespits, asook dele van Daan de Wet Nel-rylaan. Die metro se spanne het ook plek-plek AfriForum gehelp met die opruimingswerk.
Benewens die skoonmaak van stormwaterdreine, het die buurtspan ook:
- 1 570 sakke met rommel gevul;
- 196 vragte rommel weggery;
- 2,5 hektaar gras gesny;
- 1 031 km afgelê om al die werk gedoen te kry;
- 12 parke skoongemaak en gras gesny; en
- agt gebiede skoongemaak wat met rommel gestrooi was.
“Die Noord van die berg-tak het weereens bewys dat hy ’n belangrike en relevante rol speel in die gemeenskap. Die area is bevoorreg om hierdie span vrywilligers te hê wat omsien na hulle welstand. AfriForum is ook dankbaar vir die metro se spanne in die noorde, wat wonderlik saam met AfriForum se span gewerk het,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.
AfriForum se Noord van die berg-buurtspan maak maandeliks dele van Pretoria-Noord skoon. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie pogings te ondersteun.