Noord-Kaapse waterkrisis: Daar is weer water in die krane en minimale besoedeling in rivier
Danksy volgehoue druk van AfriForum se Kimberley-tak het dié dorp – ná etlike weke sonder water – weer lopende water.
Dit volg ná AfriForum ’n skrywe aan die munisipale bestuurder van die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit gerig het – dr Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap en verskeie hoofde van die Noord-Kaapse Departement van Samewerkende Regering, Menslike Nedersettings en Tradisionele Sake is ook by hierdie skrywe ingesluit.
Teen die tyd wat die skrywe gestuur is, was die inwoners van Kimberley al vir weke lank sonder water met geen vooruitsig oor wanneer watertoevoer herstel sal word nie.
“AfriForum het al op verskeie geleenthede in die verlede aangebied om die Sol Plaatje Plaaslike Munisipaliteit in ’n raadgewende rol te help met oplossings. Ons aanbod staan steeds, want ons moet omsien na die welstand van ons lede en die gemeenskap, veral met die hittige somer wat vir die Noord-Kaap voorspel word,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Die organisasie versoek steeds onder meer ’n aksieplan met ’n uiteensetting van hoe die munisipaliteit van plan is om te voorkom dat die watertoevoer nie weer die gemeenskap met droë krane sal laat nie asook inligting oor al die waterpunte wat die munisipaliteit beskikbaar sal stel indien die krisis weer herhaal. AfriForum het ook weereens sy hulp aan die munisipaliteit aangebied sodat daar spoedig oplossings gevind kan word.
Verder het AfriForum die uitslae ontvang van die watermonsters wat in die Vaalrivier by Riverton geneem is. Volgens die uitslae is die water nie oormatig besoedel nie maar AfriForum raai inwoners aan om eerder nie die water te gebruik om te drink nie en dit te kook voor hulle dit gebruik.
Die Noord-Kaapse Departement van Water en Sanitasie (DWS) het intussen terugvoer gegee oor die lewensgevaarlike blougroenalge wat in die Vaalrivier gevind is. AfriForum het antwoorde van DWS versoek oor hul aksieplanne ten opsigte van hierdie probleme asook watter stappe DWS beplan om te doen teen die persone wat verantwoordelik is vir die behandeling van die water ten einde te verhoed dat skadelike bakterieë posvat.
In lig van hierdie gebeure het AfriForum ook briewe uitgestuur aan verskeie plaaslike munisipaliteite om hulle te erken as ’n plaaslike erkende gemeenskapsorganisasie soos gemeld in Hoofstuk 4 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000).
Van der Linden noem dat die wet bepaal dat ’n munisipaliteit, ingevolge hierdie wet, ’n wetlike verpligting het om ’n kultuur van gemeenskapsdeelname te ontwikkel deur onder meer die erkenning van plaaslik gebaseerde gemeenskapsorganisasies.
Gemeenskapslede wat graag by hierdie tak betrokke wil raak kan www.wordlid.co.za besoek.