Nóg ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld glo deur polisie in die steek gelaat
’n Week ná Vrouedag eis AfriForum se privaatvervolgingseenheid antwoorde vanaf die SAPD oor nóg ’n versuim om ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld se veiligheid te verseker of die oortreder in hegtenis te neem.
Die privaatvervolgingseenheid is deur ’n voormalige werkgewer van nog ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld gekontak. Die slagoffer het glo bedank by haar werksplek en na ’n plek van veiligheid gevlug uit vrees vir haar lewe. Haar identiteit word om die rede nie bekend gemaak nie
Die slagoffer is na bewering in Julie 2021 uit haar huis ontvoer en na ’n gastehuis geneem waar sy verkrag is deur ’n persoon wat bekend is aan haar. Sy het ook na bewering in September 2021 ’n aanslag op haar lewe oorleef ná haar beweerde ontvoerder en verkragter haar herhaaldelik buite haar huis geskiet het. Dié aanval het gekom weke ná die slagoffer glo ’n klag by die polisie ingedien het. (Die naam van die verdagte is bekend aan die eenheid)
Die Cleveland SAPD – waar die onderskeie sake aangemeld is – het tot op hede nog nie die verdagte in hegtenis geneem nie hoewel hy deur die slagoffer as die oortreder geïdentifiseer is. Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het ’n skrywe aan lt.genl. Elias Mawela, Gautengse Provinsiale Polisiekommissaris, gerig om die eenheid se kommer oor die kwessie uit te spreek. Nel het die polisie se versuim om die klaer se veiligheid te verseker en die verdagte in hegtenis te neem, betreur as nóg ’n skandelike voorbeeld van hoe die strafregstelsel slagoffers van geslagsgebaseerde geweld gefaal het, ondanks beloftes van die regering en president Cyril Ramaphosa tydens Vrouemaand.
“Die president se toespraak op Vrouedag beteken hoegenaamd niks as die lede van die SAPD versuim om hul basiese plig na te kom nie. Ons voer aan dat die SAPD ons kliënt onbeskaamd in die steek gelaat het op elkeen van haar fundamentele regte,” sê Nel. “Ons verwag dat Kommissaris Mawela vir ons sinvolle terugvoer gee oor die ondersoek asook ’n verduideliking oor waarom die verdagte nog nie in hegtenis geneem is nie. Ons kliënt se lewe is omvergegooi, nie net deur die gruwels van die misdade wat teen haar gepleeg is nie, maar ook die verdere versuim van die polisie om ’n gewelddadige, gewapende verkragter aan te keer.”