|

Nóg ’n onnodige vertraging in Somerset-Oos-verkragtingsaak

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ongelukkig gewoond geraak aan langdurige vertragings om die private vervolging van Isaac Andile Memese op ’n aanklag van verkragting af te handel. Hy word daarvan aangekla dat hy Celeste Gouws ses jaar gelede op 3 September 2017 verkrag het.

Die eenheid het weke lank voorberei vir dié verhoor om op Dinsdag, 5 September te hervat, met die verdediging wat ’n video-forensiese deskundige sou  roep om te getuig oor die video-bewyse wat tydens die vervolging se saak aangebied is, Met die laaste verskyning in April vanjaar het advokaat Mike Maseti die hof gevra om die private aanklaer te verplig om die verdediging te voorsien van ’n lys inligting wat verband hou met die videotoerusting wat gebruik is om die kringtelevisiebeeldmateriaal op te neem.

By die verhoor in April het adv. Gerrie Nel betoog dat die private aanklaer sy saak afgesluit het en dat die verdediging sal moet staatmaak op die getuienis wat aangebied en aanvaar is. Hy het verder aan die hof gesê dat van die inligting wat die verdedigingspan gesoek het, eenvoudig onbeskikbaar was.

Vyf maande later het Maseti aan die hof gesê hy kan nie sy deskundige getuie roep nie omdat die private aanklaer versuim het om die inligting te verskaf wat hulle in April aangevra het.

’n Ontstigte  Nel het uit die rekord van die verrigtinge in April voorgelees, waar dit duidelik gestel is dat die private aanklaer geen verpligting het om sulke inligting te verskaf nie, en ook nie in besit van sodanige inligting was nie en dat die privaat aanklaer in elk geval reeds sy saak gesluit het. Nadat hy met sy deskundige gekonsulteer het, het Maseti aan die hof gesê hulle is bereid om die getuie te roep sonder om op die gevraagde inligting staat te maak, maar hulle sal meer tyd nodig hê om voor te berei.

Landdros Mbiyo het die versoek toegestaan en die saak is uitgestel tot 13 Februarie 2024.

“Die stappe om die finalisering van die saak te vertraag, sal ons nie daarvan weerhou om te verseker dat geregtigheid geskied nie. Die privaatvervolgingseenheid het nou al meer as tien keer na Somerset-Oos gereis en sal weer soontoe reis totdat hierdie saak afgehandel is,” sê Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

AGTERGROND

Die eenheid vervolg Memese namens die klaer, Celeste Gouws. Memese het Gouws na bewering in 2017 by haar gastehuis verkrag. Die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) in die Oos-Kaap het geweier om Memese te vervolg ondanks oorweldigende getuienis teen hom. Die DOV het aangevoer dat Memese “’n geleentheid gesien en dit aangegryp het”. AfriForum meen die Memese-familie se politieke bande waarskynli ’n rol gespeel het in die versuim om te vervolg.

Beeldmateriaal wat tydens die vervolging se saak aangebied is, onthul in skokkende besonderhede hoe Memese oor etlike ure talle alkoholiese drankies vir Gouws geskink het en hoe sy erg dronk geword het. Op ’n stadium blyk dit dat Memese drankies met Gouws ruil. Die aanklaer het tydens die aansoek om ontslag aangevoer dat dit moontlik ’n geleentheid was om haar drankie te dokter. Daar word gesien hoe hy die huis verlaat saam met ’n vriend wat Gouws gebel het om haar te help. Daar word beweer en op video gesien dat Memese na die huis teruggekeer het en vir Gouws na die slaapkamer gedwing het, waar hy haar glo verkrag het. Tydens die vervolging se saak was Memese se verweer dat hulle in konsensuele seks betrokke was, terwyl die klaer ontken het dat sy enigsins ingestem het daartoe. 

Soortgelyke plasings