|

Niks verkeerd met kultuurgroepe wat vir hul taal, simbole en monumente baklei nie

 

Minderhede en kultuurgroepe regoor die wêreld eis moedertaalonderrig en die beskerming van hul taal, simbole en monumente op.

Daar is niks daarmee verkeerd as Afrikaners in Suid-Afrika dit ook doen nie, het dr. Bertus de Villiers, verbonde aan die Universiteit van Wes-Australië, vandag by ’n konferensie van Solidariteit oor grondwetlike ruimtes vir selfstandigheid en kulturele selfbestuur gesê.

De Villiers het gesê die grondwet en internasionale reg bied ruimte vir selfstandigheid vir minderhede.

Hy het na talle voorbeelde regoor die wêreld verwys waar taalgroepe of minderhede met sukses selfdeterminasie, selfstandigheid of outonomie gekry het.

Hy het gewys op die verskillende vorme van selfdeterminasie wat daar is soos deur afstigting in die geval van Suid-Soedan, Kosovo en Oos-Timor waar as’t ware nuwe lande geskep is. Outonomie is ook moontlik deur desentralisasie soos in die geval van die Switserse kantons, Kanadese provinsies en Belgiese streke.

Hy het ook verwys na die beskerming van individuele regte deur middel van kultuurverenigings, taalbewegings en nie-regeringsorganisasie, maar meen dit is beperkend in die sin dat geen staatshulp aan die groepe verleen word nie. Daar kan ook hulp van tradisionele owerhede kom soos byvoorbeeld in Maleisië en Nigerië waar taalgroepe geakkommodeer word.

’n Ander voorbeeld hoe die outonomie en selfstandigheid van kultuurgroepe bevorder kan word, is deur kultuurrade.

De Villiers meen dit kan strek van ’n nie-regeringsorganisasie tot ’n raad met regeringsfunksies. Die jurisdiksie is nie noodwendig geografies nie. Die kultuurgroepe kan ook beleidsinsette aan die regering maak, terwyl die groep se taal en kultuur op verskeie vlakke van onderwys, regspleging, opleiding, kleinsake, tot leierskapsontwikkeling bevorder word. Lande met goed funksionerende kultuurrade sluit in Duitsland, Rusland, Hongarye, Estland en België. Dié kultuurrade kan op ’n spektrum van informeel, formeel en statutêr wees waar hulleself wetgewing maak en afdwing.

De Villiers meen minderhede in Suid-Afrika moet kyk na watter model van selfstandigheid vir hulle die beste sal werk. Vir hom is dit egter belangrik dat die gegrond moet wees op die beginsels van opbou en uitbou. “Daar kan nie sprake van ’n eiland-mentaliteit wees nie. Dit staan die kultuurgroep vry om sy eie belange op te bou, terwyl daar ook uitgebou word na ander om die land ’n beter plek te maak.”

De Villiers het beklemtoon dat die strewe na selfstandigheid nooit maklik is nie. Dit is ’n lang en moeilike stryd en dit het die Skotte byvoorbeeld 200 jaar geneem om die outonomie te kry wat hulle nou het.

De Villiers het gesê vir sukses moet ’n selfstandigheidsmodel aan bepaalde maatstawwe voldoen, soos byvoorbeeld die grondwet, hoe finansieel en prakties haalbaar dit is én of die tydsberekening daarvoor reg is.

Hy het gesê politieke realiteite verander en is dinamies en niemand kan sê hoe Suid-Afrika se politieke landskap teen 2030 sal lyk nie. Hy meen egter die regering kan net basiese dienste verskaf en die kopskuif na selfdoen is baie belangrik.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het die klem op plaaslike kulturele selfbestuur geplaas.

Hy het verwys na ’n grondwet wat net ’n beperkte leeftyd het en dat Suid-Afrika ’n nuwe geslag politici het wat nie meer gebonde voel aan die skikking wat in 1994 bereik is nie.

Buys meen die plafon vir groter selfstandigheid moet en kan verhoog word. In die opsig sluit die Helpmekaarplan 2020 wat onlangs aangekondig is nou aan.

Buys het ook na die moontlikheid van kulturele “vrystede” verwys as deel van plaaslike bestuur waar mense verkies om te leef binne selfverkose politieke, ekonomiese, kulturele en juridiese strukture. Dié stede is aan die toeneem weens die verval van die staat en dienste wat nie meer gelewer kan word. “Mense wil nie meer onder die staat val nie en self besluite neem.”

Prof. Grietjie Verhoef, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, het gesê voordat enige beplanning rondom die idee van selfbeskikking gedoen kan word, is dit belangrik dat die konsep hiervan en wat daarmee bedoel word, eers behoorlik uitgepak word.

Volgens Verhoef het selfbeskikking gegewe die land se geskiedenis bepaalde negatiewe konnotasies wat eers uit die weg geruim moet word. Die vooroordele wat daar ten opsigte van selfbeskikking bestaan moet eers afgebreek word.

Prof. Koos Malan, dosent in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, het die fokus geplaas op die grondwet wat op papier een ding beteken, maar in praktyk op totaal iets anders neerkom.

Hy het gesê Suid-Afrika het ’n “party-staat” geword waar die onderskeid tussen regering en staat verval het. “Die ANC is met homogenisering besig waar almal dieselfde moet wees. Sogenaamde nie-rassigheid is by die venster uit en Suid-Afrika is vandag ’n ras-verdeelde samelewing. Politieke praktyke het die grondwet-beginsels ongedaan gemaak,” het Malan gesê.

 

 

 

 

Soortgelyke plasings