Nietigheid van Afrikaans in België nekslag toegedien
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van die burgerregte-organisasie se internasionale skakeling, het verlede week ʼn referaat by die Universiteit van Gent in België se derde jaarlikse akademiese konferensie oor Afrikaans gelewer.
Dié verslag het gehandel oor AfriForum se werksaamhede op die terrein van taalbeskerming en -bevordering en ook die positiewe rol wat ‘n gemeenskapsorganisasie op dié terrein kan uitoefen.
Sowat 50 mense, insluitend akademici en studente, het vanjaar se program bygewoon. Dié program het op taalbeleid en letterkunde gefokus.
Van die sprekers by die geleentheid het prof. Wannie Carstens, dosent in Afrikaans/Nederlands en direkteur van die sentrum vir akademiese en professionele taalpraktyk by die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, en prof. Theo du Plessis, direkteur van die eenheid vir taalfasilitering en -bemagtiging by die Universiteit van die Vrystaat, ingesluit.
Volgens Bailey het die gedeelte oor taalbeleide gefokus op die taalbeleide by universiteite en ander openbare instellings in Suid-Afrika, spesifiek op die invloed wat die toepassing van dié beleide op die toekoms van Afrikaans as hoëfunksietaal het.
Nog interessante referate het ‘n bydrae van dr. Heinrich Matthee, ʼn politieke risiko-ontleder en akademikus, wat die taal- en kultuurstryd van die Amazigh in die noorde van Afrika met die stryd oor die toekoms van Afrikaans vergelyk. Daar was ook ‘n voorlegging van Angelique van Niekerk oor ‘n aanlynkursus vir mense wat Afrikaans wil leer.
Bailey het gesê die prentjie wat oor die toekoms van Afrikaans geskets is, is realisties en kommerwekkend. “’n Baie eerlike beeld is oor die agteruitgang van die taal, en akademici en Afrikaanssprekendes se kommer oor die toekoms van die taal in die algemeen, geskets.”
Sy het voorts gesê die groei in belangstelling in Afrikaans waarvan Gent, maar ook ander universiteite in Europa en elders in die wêreld getuig, bemoedigend is. “Gent het tans 52 derdejaarstudente met Afrikaans as hoofvak en bied ook ’n meestersgraad in Afrikaans aan. Dit dien die mite oor die nietigheid van Afrikaans die nekslag toe,” het Bailey gesê.
Volgens Bailey het die meerderheid sprekers van verskillende Suid-Afrikaanse universiteite ook deurgaans hul dank teenoor AfriForum uitgespreek vir die rol wat die burgerregte-organisasie speel in regsaksie en ander projekte om Afrikaans te beskerm. “Dit was ook ’n besondere voorreg om in Afrikaans ’n referaat te lewer en deur mense uit verskeie lande, insluitend Nederland, België en Duitsland, verstaan te word.”