|

Ngwathe-munisipaliteit moet begroot vir padinstandhouding, vullisterreine en dies meer in Heilbron en Parys

Die AfriForum-takke in Heilbron en Parys het kommentaar op die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit ingedien en aanbevelings gemaak waarvoor dié munisipaliteit moet begroot. Na verneem word is hierdie munisipaliteit al gemaan om eiendomsbelasting in te vorder en aan te wend waarvoor dit bedoel is. Vrugtelose en verkwiste uitgawes moet tot die minimum beperk word.

Die tekortkominge waarvoor die munisipaliteit in Heilbron moet begroot, is:

  • Die enorme rekening by Rand Water moet dringend aandag kry en daar moet in die begroting voorsiening gemaak word om die skuld op ’n gereelde basis af te betaal.
  • Die waterinfrastruktuur moet herstel en onderhou word. Daar moet stopkrane en drukkleppe geïnstalleer word om herstelwerk te vergemaklik.
  • Die paaie wat vol slaggate is moet herstel word en indien nodig, herbou word.
  • Die vullisterrein is nie net onwettig nie, maar ook nie op standaard nie. Daar moet begroot word om ’n wettige, omgewingsvriendelike vullisterrein aan te lê wat behoorlik bestuur word.
  • Daar is talle oop erwe en parke wat in ’n haglike toestand is waarvan die eienaars aangespreek moet word. In gevalle waar dié terreine aan die munisipaliteit behoort, moet dit skoongemaak en opgeknap word.

Behoeftes in Parys waarvoor begroot moet word, sluit in:

  • Die waternetwerk is in ’n haglike toestand met pype wat daagliks bars. Die asbespype moet vervang word en onderhou word. Bevoegde personeel moet aangestel word.
  • Die kontrakteur by die waterwerke moet betaal word sodat die opgradering van die waterwerke voltooi kan word.
  • Die elektrisiteitsnetwerk is ook in ’n haglike toestand met ontploffings wat bykans daagliks plaasvind. Daar moet begroot word om die netwerk te herstel en in stand te hou. Bevoegde personeel moet aangestel word.
  • Die rioolwerke wat nie funksioneer nie moet herstel en onderhou word sodat dit na behore kan funksioneer.
  • Die paaie is in ’n haglike toestand, daarom moet daar begroot word om slaggate te herstel en waar nodig, die paaie te herbou.
  • Die vullisterrein is in ’n haglike toestand – tot so ’n mate dat inwoners nie vullis daarheen wil neem nie, wat uiteindelik onwettige vullisstorting tot gevolg het. Die vullisterrein moet volgens voorskrifte opgeknap en reg bestuur word.

Daar word aanbeveel dat die munisipaliteit hierdie aanbevelings in die begroting moet vervat  sodat die fondse beskikbaar kan wees om aan hierdie sake aandag te gee.

“Ons hoop werklik dat die munisipaliteit gehoor sal gee aan die takke se aanbevelings vir die begroting, daarvoor sal begroot en die fondse sal gebruik vir die kwessies waarvoor dit begroot is. Ons verstaan dat die verval nie in een jaar reggeruk sal kan word nie, maar daar moet begin word daarmee, anders sal daar nooit vordering wees nie. AfriForum sal kyk wat in die begroting aangebring word en die munisipaliteit tot verantwoording roep,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Soortgelyke plasings