NGV-implementering gaan nie sonder beslissende regsaksie voorkom word nie, maan AfriForum
AfriForum waarsku dat die implementering van Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie sonder regsaksie en verbete openbare druk voorkom sal word nie. Die ANC se optrede en retoriek sedert die 2024-verkiesing het getoon dat die party steeds glad nie bereid is om kompromieë met politieke opponente of burgerlike groepe aan te gaan nie.
Daar is die afgelope naweek berig dat die ANC van plan is om tydens die eerste kabinetslekgotla vir 2025 ’n kompromisvoorstel ter tafel te lê vir die implementering van NGV. Aaron Motsoaledi, die minister van Gesondheid (en ANC-lid), het egter twee dae later dié berigte ten sterkste ontken en gesê dat die implementering van NGV onveranderd voortgaan. AfriForum wys daarop dat dit ’n ou taktiek van die ANC is om teenstrydige en verwarrende boodskappe oor skadelike wetgewing te lewer. Dus is dit belangrik om nie enigsins die druk te verslap in die stryd teen NGV nie.
Volgens Louis Boshoff, AfriForum se veldtogbeampte oor gesondheid, moet belastingbetalers hulle nie laat paai deur die feit dat daar nie genoeg geld is om NGV te implementeer nie. “Dit is duidelik uit die ANC se ideologiese verblinding dat hulle sal poog om NGV te implementeer ongeag die skade wat so ’n poging kan aanrig,” verduidelik Boshoff. “Daarom sal AfriForum alles in die stryd werp om NGV in die howe ongrondwetlik te laat verklaar.”
AfriForum het reeds laasjaar aangekondig dat die organisasie ’n unieke regsaksie teen NGV sal begin waarin ’n dagvaarding teen die regering uitgereik word en deskundige getuies ingeroep word om die onhaalbaarheid van NGV te bewys. “Die afgelope paar maande se verwikkelinge het juis aan ons bewys hoe belangrik dit is dat daar ’n verskeidenheid litigasieprosesse teen NGV van stapel gestuur word en dat daar nie net sommer ’n politieke oplossing gevind sal word nie,” voeg Boshoff by.
Om meer uit te vind oor AfriForum se veldtog teen NGV en ’n bydrae te maak, besoek www.jougesondheid.co.za.