Nersa moet sokkies optrek vir nuwe munisipale kragtariefverhogingseisoen – AfriForum
AfriForum slyp weer sy tande vir die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) om ’n herhaling van die fiasko met verlede jaar se munisipale kragtariefverhogings te voorkom. Terwyl die burgerregteorganisasie nog wag op die finalisering van Nersa se appèlproses rakende die onregmatige en ongeldige kragtariefverhogings wat die reguleerder verlede jaar aan minstens 100 munisipaliteite toegestaan het, eis AfriForum antwoorde oor hoe die reguleerder beoog om vanjaar te verseker dat munisipaliteite die voorvereiste kostestudies as deel van hul tariefverhogingsaansoeke indien.
Die hooggeregshof in Pretoria het in Junie verlede jaar in AfriForum se guns beslis en bepaal dat Nersa se besluit om munisipaliteite se aansoeke om kragtariefverhogings sonder die vereiste kostestudies te oorweeg, onregmatig én ongeldig is. Dit beteken dat die reguleerder geen aansoeke om kragtariefverhogings van munisipaliteite mag oorweeg tensy die vereiste kostestudies ook ingedien word nie. Nersa veg egter steeds verbete voort om dié beslissing omgekeer te kry, ten spyte daarvan dat die indiening van kostestudies ’n vereiste komponent van munisipaliteite se aansoeke om tariefverhogings is wat deur die Wet op Elektrisiteitsregulering 4 van 2006 voorgeskryf word. Kostestudies is van kritieke belang omdat dit ’n duidelike uiteensetting gee van wat munisipaliteite se tariewe moet wees om die diens behoorlik te kan lewer en netwerke in stand te hou.
In die skrywe wat vandag aan Nersa gestuur is, beklemtoon AfriForum dat die hooggeregshof reeds beslis het dat Nersa se historiese standaardiseringsbenadering (oftewel benchmarking approach) in die bepaling van munisipale kragtariewe onaanvaarbaar is en dat kostestudies die enigste aanvaarde metode hiervoor is.
“Ten spyte van duidelike hofuitsprake en wetgewing wat die gebruik van kostestudies in hierdie proses voorskryf, is daar steeds munisipaliteite wat nie aan hierdie voorskrifte voldoen nie. Nersa mag nie langer toesien dat onbillike tariefverhogings daardeur op ’n onregmatige wyse aan munisipaliteite toegestaan word nie,” benadruk Deidré Steffens, Plaaslikeregeringsraadgewer by AfriForum.
AfriForum dring daarop aan dat Nersa sy verantwoordelikhede as reguleerder nakom en sal verseker dat munisipaliteite se aansoeke aan al die nodige wetlike voorvereistes voldoen. Om ’n herhaling van verlede jaar se onregmatige tariefverhogings te verhoed, eis AfriForum antwoorde van Nersa oor:
- maatreëls wat Nersa geïmplementeer het om die indiening van kostestudies as deel van munisipaliteite se tariefverhogingsaansoeke af te dwing;
- aksies wat word geneem wanneer ’n munisipaliteit versuim om die vereiste kostestudie in te dien; en
- planne vir enige bykomende stappe om nakoming en aanspreeklikheid in die tariefaansoekproses te verbeter.
Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê: “Die gebruik van kostestudies is die enigste manier waardeur Nersa werklik kan verseker dat elektrisiteitstariewe strook met nasionale beleidsdoelwitte en terselfdertyd ook koste-effektief en billik is. Dit is onaanvaarbaar dat munisipaliteite poog om aanspreeklikheid vry te spring deur nie aan dié voorskrifte te voldoen nie.”
“Terwyl ons wag op Eskom se tariefverhogingsaankondiging vir die jaar, dreig die kwessie van voldoening aan kostesstudies steeds. Nersa se rol as reguleerder is van kritieke belang om deursigtigheid en regverdigheid te verseker, en ons doen ’n beroep op Nersa om beslissend op te tree om die oppergesag van die reg te handhaaf en elektrisiteitsverbruikers te beskerm,” sluit Mostert af.