|

Nelspruit-tak laat gebied blink ná buurtspan 50 sakke vullis verwyder

Die AfriForum-buurtspan wat weekliks help om Mbombela (Nelspruit) te verfraai het die afgelope maand bewys hoe selfdoen-inisiatiewe kan help om ’n dorp skoon en netjies te hou. Tydens drie skoonmaakaksies het die Nelspruit-tak se buurtspan daarin geslaag om 50 sakke vullis op te tel en uit die omgewing te verwyder. Hierdie aksies het veral gefokus op ’n deel van Kaapschehoopweg naby Belladonnastraat, asook aan die hoek van Enos Mabuzarylaan en Belladonnastraat waar rommel gereeld gestrooi word.

Dié buurtspan, wat onlangs gestig is as deel van AfriForum se veldtog om gemeenskappe te mobiliseer om die omgewing skoon te hou, het ingegryp om hierdie knelpunte te pak. Die span het plastiek, papier, bottels en ander rommel verwyder om die strate weer netjies te maak.

“Ons buurtspan het weer bewys dat daadwerklike optrede deur die gemeenskap blywende verandering teweeg kan bring,” sê Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak. “Ons moedig almal in die gemeenskap aan om by hierdie soort inisiatiewe betrokke te raak. Deur saam te werk, kan ons die omgewing teen verval beskerm.”

AfriForum se Nelspruit-tak bly daartoe verbind om gereeld skoonmaakaksies van stapel te stuur en die gemeenskap te mobiliseer om self in te gryp waar die plaaslike regering faal. Hierdie skoonmaakaksies is net die begin van ’n groter veldtog om Mbombela skoner en veiliger vir inwoners te maak.

Word deel van die oplossing en raak vandag nog betrokke by AfriForum se Nelspruit-tak. Besoek www.wordlid.co.za om by die tak aan te sluit en ’n verskil in die omgewing te maak.

Soortgelyke plasings