|

Nelspruit-tak fokus vanjaar op instandhouding van Mbombela-parke; versoek munisipaliteit om dieselfde te doen

AfriForum se Nelspruit-tak in Mbombela het die nuwe jaar afgeskop met die fokus op die groenstroke en parke in dié stad. Die organisasie beplan om weeklikse skoonmaakprojekte van stapel te stuur, wat daarop gemik is om die toestand van hierdie openbare ruimtes op te knap en die gemeenskap se lewenskwaliteit te verhoog.

Die tak het reeds verlede week in die Steiltes-woonbuurt weggespring, waar die parkie in Melkweg-weg in die Steiltes-natuurreservaat skoongemaak is. Hierdie projek het ’n groot verskil gemaak met gemeenskapslede wat positief op die verbeterde toestand van die park gereageer het.

Hierdie nuwe fokus volg ná AfriForum se ernstige bekommernisse oor die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se swak bestuur van parke en groenstroke.

In ’n brief wat AfriForum op 23 Januarie aan die Mbombela-munisipaliteit gestuur het, word die munisipaliteit versoek om ’n gedetailleerde bestuursplan, asook die begroting en besteding vir die instandhouding van groenstroke en parke in die stad, bekend te maak. Dit is van kardinale belang dat inwoners insig kry oor hoe belastinggeld aangewend word en watter stappe geneem gaan word om die huidige tekortkominge die hoof te bied.

Hierdie fokus is deel van AfriForum se inisiatief om gemeenskapsbetrokkenheid by die instandhouding van openbare ruimtes te bevorder en om die munisipaliteit aanspreeklik te hou vir die versorging van hierdie belangrike ruimtes.

Die skoonmaakprojekte wat die plaaslike AfriForum-tak in Mbombela gaan aanpak, sal nie net die estetiese waarde van die omgewing verbeter nie, maar ook ’n positiewe impak op die gesondheid en veiligheid van die inwoners hê.

AfriForum se Nelspruit-tak se volgende fokusgebied is Enterprise-singel.

AfriForum nooi alle Mbombela-inwoners uit om by hierdie inisiatief betrokke te raak. Gemeenskapslede kan die AfriForum-tak kontak om met die skoonmaak van openbare ruimtes in hul woonbuurte te help.

“Deur saam te werk, kan ons ’n positiewe verskil maak en ons gemeenskap se omgewing verbeter. Dit is ’n geleentheid vir inwoners om hul betrokkenheid by die gemeenskap te toon en om ’n skoner, veiliger en meer aanloklike omgewing te skep,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum sal aanhoudend druk op die munisipaliteit toepas om hul verantwoordelikhede na te kom en om die nodige stappe te neem om die toestand van die groenstroke en parke te verbeter.

“Dit is die munisipaliteit se plig om te verseker dat hierdie ruimtes behoorlik bestuur en onderhou word. AfriForum sal dus nie huiwer om hulle aan hul verantwoordelikhede te herinner nie,” sluit Van Heerden af.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak die AfriForum-tak in Mbombela by arlo.vanheerden@afriforum.co.za of 066 486 7609.

Soortgelyke plasings