|

Nelspruit-buurtspan werk hard om dorp skoon te hou

Die AfriForum-buurtspan in Nelspruit het die afgelope maand verskeie projekte aangepak om dié dorp skoon en netjies te hou. Die buurtspan is genoodsaak om die skoonmaakwerk te doen, aangesien die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit nie sy pligte nakom nie en versuim om die dorp se gras te sny en parke in stand te hou.

Hierdie AfriForum-tak se buurtspan het by die kruising op Ferreira- en Henshallstraat gras gesny en 12 sakke vol vullis verwyder. By die ingang van die Steiltes-woonbuurt is soortgelyke werk gedoen, waar gras gesny en vullis opgetel is om die ingang netjies te maak. In Enos Mabuza-rylaan het die span hul aandag gevestig op die padskouers, waar vullis verwyder en die area skoongemaak is om verkeersveiligheid te verbeter.

Altesaam 50 sakke vol vullis is in die dorp verwyder, wat ’n beduidende verskil gemaak het in die netheid van die strate en toeganklikheid tot openbare ruimtes.

“AfriForum is trots op die werk wat ons buurtspan gedoen het om die omgewing skoon te hou. Hierdie projekte wys dat wanneer gemeenskappe saamwerk, groot verandering teweeg gebring kan word. Ons nooi alle inwoners uit om by AfriForum betrokke te raak en saam ’n skoner en veiliger omgewing te kweek,” sê Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak.

Soortgelyke plasings