Nasionale Gesondheidsversekeringskema sal jou gesondheid in ANC-hande laat
Deur Natasha Venter
Belastingbetalers behoort benoud te wees oor dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, se onlangse aankondiging dat die finale Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voor Maart 2020 in werking sal tree. Die inwerkingtrede van hierdie wet sal in effek beteken dat die regerende ANC die mag sal hê om te besluit watter behandeling jy nodig het, wie dit moet verskaf en waar jy dit moet kry. Verder gaan dit na alle verwagtinge ’n skokkende belastingstyging tot gevolg hê.
Die NGV beoog ’n nasionale, enkelbetalende gesondheidstelsel vir Suid-Afrika wat diensvlakke, prys en die omvang van sorg sal dikteer. Volgens Mkhize sal gesondheidsorg onder die NGV gelyk wees vir almal en gesondheidswerkers sal beskikbaar wees om dienste in ’n gelyke mate te bied. Indien hierdie beoogde gelyke vlak op ’n hoë standaard was, sou die NGV dalk nie so ongewens gewees het nie, maar die vlak van gesondheidsorg in die openbare sektor is só haglik dat baie min fasiliteite sal kwalifiseer om dienste onder die NGV te lewer. Volgens ’n verslag van die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde voldoen slegs vyf van 696 staatshospitale en -klinieke wat in 2016-2017 ondersoek is aan die gesondheidsdepartement se norme en standaarde om ’n 80%-slaagsyfer te behaal.
Volgens die Junie 2017 NGV-witskrif sal hierdie skema geld vir die behandeling van kardiologie, dermatologie, neurologie, onkologie, psigiatrie, verloskunde, ginekologie, pediatrie, ortopedie, en chirurgie – insluitend orgaanoorplantings. Dit sal beteken dat die ANC kan besluit wie ’n vrou se ginekoloog moet wees, asook waar en deur watter metode haar baba gebore moet word. Op primêre gesondheidsorgvlak sal die NGV onder meer voorsiening maak vir seksuele en reproduktiewe gesondheidsorg, die rehabilitasie van mondgesondheid, en geestesgesondheidsbehandelings. Dit kan beteken dat die staat namens jou besluit watter voorbehoedmiddel jy moet gebruik, of jou kind ortodonsie nodig het of nie, asook of jy regtig antidepressante moet gebruik. Is dit die tipe mag wat ons in die staat se hande wil plaas? Veral gegewe die onderskeid wat die huidige regering tans tussen rasse tref?
Verder gaan ongeveer 8,3% van die bevolking verplig wees om die NGV ten bate van die hele land te befonds. Volgens SAID was daar in die 2018 belastingjaar slegs 4,8 miljoen geregistreerde belastingbetalers, terwyl Suid-Afrika se bevolkingsyfer (in hierdie tydperk) 57,7 miljoen was. Wanneer mens die hoë vlakke van armoede, werkloosheid en dié disproporsionele klein belastingbasis oorweeg, is dit moeilik om jou voor te stel hoe ’n regeringsbefondsde stelsel van “gratis gesondheidsorg vir almal” in Suid-Afrika kan werk. Suid-Afrikaners gaan geen ander keuse hê as om aan die NGV-stelsel te behoort nie en belastingbetalers sal verplig wees om daarvoor te betaal, selfs al kies hulle om bydraes aan ’n privaat mediese fonds ook te maak. Alle gesondheidsinkomste wat die NGV genereer sal in ’n sentrale fonds inbetaal word waaruit betalings gemaak gaan word.
Volgens ’n studie deur AfriForum kan die NGV-belastingbetalers tot R446,8 miljard per jaar kos (en nie R30 miljard, soos Mkhize aanvoer nie). Die gesondheidminister kan egter steeds nie verduidelik waar hierdie geld vandaan gaan kom nie. Sy enigste vae antwoord is dat die NGV die oplossing vir die huidige tekorte aan fondse in die gesondheidstelsel is. Wanneer mens egter in ag neem dat die gesondheidsdepartement in die 2017/2018-boekjaar een van die slegste oudits van al die departemente gekry het, is dit duidelik waar dié tekorte in die gesondheidsektor vandaan kom.
Vir baie arm mense klink die instelling van die NGV soos die antwoord op hul huidige gesondheidsprobleme (by implikasie die haglike omstandighede in staatshospitale en ‑klinieke). Wanneer mense egter besef dat die NGV nie die gesondheidsminister se goue beloftes kan gestand doen nie, gaan die gesondheidstelsel in Suid-Afrika soos ons dit vandag ken, reeds verwoes wees. Dit is waarom burgery hierdie stelsel met mag en mening moet teenstaan en aan burgerlike organisasies hul mandaat moet gee om vryemarkbeginsels te beskerm.