Nagsigverkykers help AfriForum se Nelspruit-buurtwag om veiligheid snags op te skerp
AfriForum se Nelspruit-buurtwag in Mbombela het onlangs twee nuwe nagsigverkykers ontvang om hul misdaadvoorkomingsinisiatiewe en patrollies te versterk. Hierdie tegnologiese hulpmiddels sal die buurtwag in staat stel om selfs in swak beligte of donker areas beter sigbaarheid te hê, wat die doeltreffendheid van hul patrollies aansienlik verhoog.
Volgens Devon McCullough, leier van AfriForum se Nelspruit-buurtwag, is hierdie opgradering ’n stap vorentoe in die stryd teen misdaad. “Die nuwe nagsigverkykers sal ons buurtwag ’n groot voorsprong gee wanneer dit kom by nagpatrollies en reaksie-aksies. Dit verseker nie net ons eie veiligheid nie, maar ook dat ons beter toegerus is om ons gemeenskap teen kriminele aktiwiteite te beskerm.”
Die buurtwag het reeds ’n reeks suksesvolle patrollies met die nagsigverkykers uitgevoer, wat verseker dat potensiële bedreigings vroeg geïdentifiseer en hokgeslaan word. Die opgradering is ook deel van AfriForum se voortdurende verbintenis om gemeenskappe die nodige toerusting te bied om hul eie veiligheid te prioritiseer.
AfriForum se Nelspruit-buurtwag nooi die gemeenskap uit om aktief by die buurtwag betrokke te raak. Meer hande maak ligter werk en saam kan ons ’n sterker front teen misdaad vorm.
Sluit aan of ondersteun die buurtwag. Vir meer inligting oor hoe jy by AfriForum se Nelspruit-buurtwag kan aansluit, besoek www.wordlid.co.za.