Ná lang regstryd ontvang Sunfield Home eerste verhoogde subsidiebedrag

Positiewe einde ná AfriForum skikking met departement bereik

Sunfield Home Fortuna, ’n tehuis vir fisiek en verstandelik gestremde persone buite Balfour in Mpumalanga, het vandag vir die eerste keer die verhoogde subsidiebedrag ontvang wat AfriForum in ’n skikkingsooreenkoms met die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling onderhandel het. AfriForum se regspan – wat die tehuis verteenwoordig – het met die departement ooreengekom dat die staatsgesubsidieerde inwoners se subsidiebedrag voorts R3 600 per maand sal wees, eerder as die R1 984 wat vir langer as ’n dekade onveranderd gebly het. Die departement sal boonop jaarliks die subsidiebedrag met 10% moet verhoog.

Die Sunfield-tehuis het AfriForum in Augustus 2022 om hulp genader omdat die departement die tehuis se subsidie wou kanselleer. Dit sou beteken dat die Sunfield-tehuis se kwesbare inwoners hervestig sou word. Nadat AfriForum ’n interdik bekom het om die kansellasie van die kontrak te verhoed en te verseker dat die betaling van die bestaande subsidie voortgaan, het die burgerregteorganisasie se saak teen die departement gefokus op die onbillike subsidiebedrag wat in die afgelope 15 jaar nooit verhoog is nie.

Die Mpumalanga Hooggeregshof het in Januarie beslis dat ’n nuwe subsidiebedrag van R7 637,23 per staatsgesubsidieerde inwoner per maand betaalbaar is en dat die jaarlikse verhoging op grond van die verbruikersprysindeks (VPI) begroot en betaal moet word. Die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het egter aansoek gedoen om verlof tot appèl en nadat dit toegestaan is, het dit duidelik geword dat die tehuis nie finansieel sou oorleef totdat die appèlproses voltooi is nie. Dit het in ’n stadium so sleg met die tehuis gegaan dat sy krag afgesny is weens sy onvermoë om die Eskom-rekening te vereffen. Dit het AfriForum se regspan genoop om namens die tehuis te skik en ’n kleiner subsidiebedrag te onderhandel.

“Dit is hoopgewend om te sien dat die tehuis ná ’n uitgerekte hofstryd uiteindelik die verhoogde subsidiebedrag ontvang het. Dit bring broodnodige verligting en sekuriteit aan talle kwesbare inwoners wat afhanklik is van die sorg wat hierdie tehuis bied,” sê Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum.

Boshoff sê dit is nogtans teleurstellend dat die departement nie bereid was om die hofbevel ten volle na te kom nie, maar eerder daarteen te baklei. “Die versorging van fisiek en verstandelik gestremde persone is nie ’n opsionele uitgawe wat sommerso nagelaat kan word nie. Verbeel jou die Departement van Onderwys gaan hof toe omdat hy nie verder geld aan skole wil spandeer nie, of die Departement van Verdediging wil ophou geld aan weermagbasisse spandeer – dít sou met tehuise soos Sunfield gebeur het as die Mpumalanga Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sonder teenkanting met sy planne voortgegaan het.”

Dit is vir AfriForum van uiterste belang dat belastingbetalers se geld reg aangewend word en waar dit nie gebeur nie, sal dié burgerregteorganisasie intree en toesien dat dit reggestel word.

Soortgelyke plasings