’n Gemeenskapsentrum vir Vryheid
AfriForum en Helpende Hand se Vryheid-takke beplan ’n gesamentlike gemeenskapsentrum vir dié dorp. Hierdie is die eerste van sy soort en die twee organisasies beoog om hulle dienste aan die gemeenskap vanuit dié sentrum te bedryf.
Die takbesture van beide organisasies is baie aktief in die Vryheid-gemeenskap en daarom het die behoefte ontstaan om hul kragte saam te span deur ’n dubbeldoelige gemeenskapsentrum op die been te bring. ’n Perseel is reeds geïdentifiseer en die inrigting daarvan sal binnekort ’n aanvang neem.
“AfriForum wil graag sy missie, wat in vryheid, veiligheid en voorspoedigheid vervat word, deur middel van die werksaamhede van die plaaslike tak aan ons lede bied. Fokusareas sluit plaaslikeregeringsake, veiligheid, omgewingsake en die jeug in. Ons beplan ook om binnekort op gesondheid te begin fokus,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder van KwaZulu-Natal.
“Om Afrikanerarmoede te verlig, is ’n bategebaseerde benadering baie meer volhoubaar – om dus by dié te begin wat reeds het en wat iets het om te gee. Gemeenskappe is propvol moontlikhede en potensiaal, en die geheim is om dié hulpbronne en oplossings in individue en die gemeenskap te soek en ontgin. Ons doel is om met hierdie ongelooflike gemeenskapsprojek ’n daadwerklike verskil in die lewens van ons gemeenskap in die Vryheid-omgewing te maak,” sê Mariëtte van Heerden, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder in KwaZulu-Natal.
André van der Walt, voorsitter van Vryheid se AfriForum-tak, is van mening dat die gemeenskapsentrum gesien moet word as ’n samebindende faktor vir die Vryheid-gemeenskap, waar ieder en elk eienaarskap van dié eens pragtige dorp kan vat.
“Vir my gaan dit in wese oor gemeenskappe wat bemagtig moet word om hulself te help,” sê Riaan du Plooy, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit se Helpende Hand. “Sowel die antwoord op elke vraag as die potensiaal en hulpbronne is in elke lid van die gemeenskap opgesluit. Al wat ons wil doen, is om hulle te help om dit te onsluit, kragte saam te snoer en mense te mobiliseer om ’n verskil te maak.”
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sluit af deur te sê dat hy die vestiging van hierdie gemeenskapsentrum as ’n reusestap vorentoe beskou vir die uitbreiding van ’n selfstandige gemeenskap in Vryheid.