Munisipaliteit moet finansiële state bekend maak
Die burgerregte-organisasie AfriForum se Warrenton-tak het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) (PAIA) gebring om finansiële rekords van die Magareng Plaaslike Munisipaliteit te bekom.
Die doel hiervan is om vas te stel wat die plaaslike owerheid met belastingbetalers se geld doen om onder meer te bepaal hoe die munisipaliteit se skuldlas só gegroei het dat Eskom die gemeenskap se elektrisiteit weens wanbetaling wil ontkoppel.
AfriForum het verder versoek dat die kwalifikasies en posbeskrywings van senior amptenare in die munisipaliteit openbaar gemaak moet word om te bepaal of die amptenare aan die minimum vereistes van hul onderskeie poste voldoen.
“Die gemeenskap is diep ontevrede omdat hul dorp een van die dorpe in die Noord-Kaap is wat vir Eskom geld skuld. Die bedrag beloop nagenoeg R38 miljoen en ons wil weet waarom Eskom nooit betaal is nie, aangesien inwoners hul elektrisiteitsrekeninge maandeliks aan die munisipaliteit betaal,” sê Nanette Flemming, voorsitter van AfriForum se Warrenton-tak.
Gee AfriForum se Warrenton-tak die mandaat om die munisipaliteit aan te vat: SMS “Warrenton” na 32532 (R1).