MUNISIPALE SKURKE MOET BOET VIR HUL WANGEDRAG!
Dr. Eugene Brink
Die ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, het onlangs haar jongste ouditresultate vir 2019/2020 oor plaaslike regering bekendgemaak. Weereens skets dit ’n sombere prentjie van hoe munisipaliteite bestuur word en gelyktydig wys dit (weliswaar onregstreeks) wat die gehalte van dienslewering in munisipaliteite behels.
Slegs 27 munisipaliteite het skoon oudits ontvang. Dit is inderdaad ’n verbetering op die 20 van die vorige boekjaar, maar dit is nogtans slegs 10% van alle munisipaliteite en onder die 33 van die 2015/2016-boekjaar. Die res was grootliks ’n mengsel van gekwalifiseerde, ongekwalifiseerde, ongunstige en weiering-bevindinge.
’n Allemintige 57 munisipaliteite het geen mening ontvang nie as gevolg daarvan dat hul finansiële state onvolledig was of nie ingedien is nie. Uiteraard moet mens skepties hieroor wees omdat baie van hierdie munisipaliteite oor peperduur konsultante beskik om mense, wat reeds moet toesien dat die state korrek en beskikbaar is, se werk te doen. Daar kan met redelike sekerheid aangeneem word dat baie van hierdie munisipaliteite hulself bloot die vernedering van swak ouditmenings wou spaar en dan besluit om eerder net nie saam te werk nie.
Indien dit moontlik is, het munisipaliteite in provinsies soos die Vrystaat, Noordwes, Limpopo en die Oos-Kaap weer agteruitgang getoon. Meer verstedelikte provinsies soos Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het in die algemeen beter as in die vorige boekjaar gevaar. Dus is daar uitsonderings, maar dit is veral meer in die Wes-Kaap en Gauteng gekonsentreer. Daarteenoor het Noordwes al vir die afgelope vier boekjare geen skoon munisipale oudits ontvang nie en die uitwerking daarvan kan in paaie vol slaggate, straatligte wat nie werk nie en water- en kragonderbrekings in daardie provinsie gesien word.
Daar moet ook in gedagte gehou word dat hierdie oudituitslae slegs ’n kort periode van die “COVID-era” (waartydens die virus en inperking se volskaalse impak gevoel word) insluit. Die volle impak van die ekonomiese insinking, netto verlore werksgeleenthede en inkomste (en dus munisipale belasting) en ander faktore moet derhalwe nog gevoel word en sal eers in die volgende stel resultate weerspieël word. Verwag dus dat munisipaliteite se finansies in die toekoms nog aansienlik gaan versleg en in sekere munisipaliteite wat reeds voor die pandemie in die knyp was, gaan dit nie gou of selfs ooit weer verbeter nie.
Soos klokslag, word daar jaarliks misnoeë deur die OG, publiek en ontleders oor die swak toestand van veral munisipaliteite maar ook ander staatsdepartemente uitgespreek. Die bestuur van munisipaliteite is gebrekkig en moet verander, die regte mense word nie aangestel nie, politieke inmenging moet ophou en aanvoerkettingprotokol word veral, en blatant, verontagsaam. Hierdie lys gaan aan en die munisipale rade is ewe skuldig aan hierdie vergrype as diegene wat met administratiewe take belas is en klaaglik daarin misluk.
Hierdie oplossings – hoe korrek en edel ook al – word net so gou vergeet soos die oudituitslae wat met hulle gepaardgaan. Sporadies sal ’n relevante minister weeklaag oor die toestand van munisipaliteite of ’n munisipale bestuurder sal geskors word hangende ’n ewigdurende ondersoek van opsienbare en bekende onreëlmatighede. Die probleem is egter dat die staat en die ANC hulself nie kan verantwoordbaar hou nie. Helaas gaan ’n minderheid van stemgeregtigde kiesers hulle vanjaar weer die reg gee om voort te gaan om te plunder en vermors. Die staat se instellings wat ten minste nominaal onafhanklik is, soos die OG, het ook nie die “tande” om hul bevindinge en aanbevelings verder te voer nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is te besig om spesialiseenhede vir apartheidsmisdade van 60 jaar gelede te stig as om om te gee wat ’n swak en korrupte regering tans aan lewens en inkomste doen.
Die taak om dienslewering en aanspreeklikheid te verhoog hang dus van die burgerlike samelewing en gemeenskappe in geografiese gebiede af. Diegene wat omgee oor die toestand van hul dorpe en munisipaliteite (en daar kan met sekerheid aangeneem word dat mense wat herhaaldelik vir die ANC en EFF stem nie werklik omgee nie), sal self met oplossings vorendag moet kom.
By AfriForum volg ons ’n veg-en-bou strategie. Enersyds “bou” ons 155 takke en 160 buurtwagte deur die mislukkings ten opsigte van dienslewering en veiligheid aan te spreek en dorpe, stede en woongebiede te regenereer. Die geveg behels daarenteen om teen korrupsie en verval te veg deur middel van aktivisme en druk om wel die staat te dwing om amptenare aan die pen te laat ry (soos besig is om onder meer in Randfontein te gebeur met rioolklagtes) en ’n omvattende regsstrategie wat nie wag op die staat om te besluit wie en wanneer iemand vervolg moet word nie.
Die OG se bevindinge kan nie net periodies tot ’n voetnota gereduseer word bloot omdat die gewone en grootliks uitgediende oplossings nie meer van toepassing is nie. Sodra die volle verslag beskikbaar is, sal ons die OG se verslag bestudeer om te besluit hoe munisipale skurke moet boet vir hul vele ernstige wandade en vergrype.