| |

Mpumalanga-buurtwagte patrolleer hoofweë, span ses hommeltuie in om kapings, lokvalle te keer

AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga het verlede week van Maandag tot Saterdag verskeie misdaadbrandpunte gepatrolleer. Dié buurtwagte het veral op hoofweë gefokus om kapings en ysterpenlokvalle te voorkom. Tydens die week het 12 van AfriForum se buurtwagte bykans 5 000 km tussen Nelspruit en Piet Retief afgelê om patrollies te ry. Daar is boonop ook ses hommeltuie gelyktydig oor die N12 in Delmas gevlieg om die area te fynkam vir moontlike ysterpenlokvalle.

Die Delmas Valke-buurtwag in samewerking met die AfriForum-buurtwagte van Kempton Park, Benoni, Middelburg, Ermelo, Secunda en die Mpumalanga-lugvleuel het op 24 Oktober vir 6 uur lank om die beurt dié belangrike snelweg met hommeltuie gepatrolleer. Die hommeltuie se ligte is later die aand aangeskakel om misdadigers te ontmoedig om lokvalle te stel en te wys dat AfriForum se buurtwagte paraat en bereid is om op te tree indien nodig. Daar is egter op geen ysterpenlokvalle afgekom nie, vermoedelik as gevolg van die hoë sigbaarheidspatrollies wat dié buurtwagte in daardie stadium vir dae lank in die gebied gery het.

“Hierdie inisiatief is net weereens ’n bewys van hoe georganiseerde buurtwagstrukture saam kan staan om te verhoed dat misdaad vastrapplek in die streek kry,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.  

“AfriForum wil graag gemeenskappe in Mpumalanga aanmoedig om betrokke te raak by die burgerregteorganisasie se buurtwagstrukture om sodoende self beheer te neem oor hul veiligheid en die misdaadsituasie in die streek. AfriForum glo daarin om voorkomend op te tree en hierdie patrollies is net weereens ’n bewys daarvan,” voeg Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, by. 

Raak vandag betrokke by jou naaste buurtwag betrokke deur Van Heerden te kontak by 066 486 7609 of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings