|

MOONTLIKHEDE MOET ONDERSOEK WORD OM BELASTINGGELD IN PROJEKTE TE BELÊ WAT GEMEENSKAPPE VERSTERK

Deur Alet Rademeyer

Belastingbetalers is kwaad vir die regering wat nie hul verantwoordelikhede teenoor die burgers van die land nakom nie. Hulle wil nie langer hul hardverdiende belastinggeld aan ’n staat oorbetaal wat die staatskas plunder en toekyk hoe dienste en die land ten gronde gaan nie.

Belastingontduiking en belastingweerhouding is onwettig, maar daar is tog skuiwergate in wetgewing wat dit vir individue en maatskappye moontlik maak om wettig belastingvrystelling te kry.

Een so moontlikheid is Artikel 12J, ’n belastingaansporing wat individue en maatskappye die afgelope dekade aangemoedig het om in waagkapitaalmaatskappye te belê. Die regering het egter besluit dat Artikel 12J van die Inkomstebelastingwet wat in 2009 ingestel is, nie na die afloopklousule (oor 5 jaar) hernu word nie. Beleggers kan egter nog tot 30 Junie 2021 transaksies doen en steeds oor die volgende vyf jaar voordeel trek uit die aansporing.

Ingevolge die aansporing kan finansiers wat in waagkapitaalmaatskakppye en beginondernemings belê 100% van hul beleggings teen hul belasbare inkomste afskryf.

Johannes Maree, uitvoerende beampte van Destinata Holdings, het vandag aan ’n sitkamergesprek deelgeneem wat AfriForum gefassiliteer het oor kommer wat daar onder die algemene publiek is oor die verkwisting van hul belastinggeld.

Maree meen Artikel 12J het baie voordele vir individue en maatskappye ingehou en dit kan steeds vir beleggers wat teen 30 Junie ’n belegging in ondernemings of maatskappye maak waar volgehoue bestuur van die belegging voortgaan.

Ingevolge Artikel 12J is ’n belastingaftrekking van R2,5 miljoen vir individue toegelaat wat in ’n goedgekeurde waagkapitaalmaatskappy (VCC of Venture Capital Company) gemaak is. Maatskappye kon tot R5miljoen belê.

Die toegelate aftrekking was bedoel as ’n belastingaansporing vir individue, trusts en maatskappye om só kleinsakebedrywighede te finansier. Dit is ingebring om kleinsakeondernemings te help wat nie hoë risiko’s kan neem en normaalweg finansiering sou kry nie.

Die regering is egter van mening dat die wetgewing nie genoeg kleinondernemings ondersteun of werk geskep het nie.

Daar is egter ekonome wat ’n ander siening hiervan het en hoop dat die regering met ’n soortgelyke program vorendag sal kom om nuwe ondernemings te finansier.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikeling by AfriForum, sê gemeenskappe is genoop om na ander maniere te kyk hoe hulle in eie ondernemings kan belê ten einde staatsbestand te word. “Gemeenskappe sal toenemend moet saamstaan om in ondernemings soos byvoorbeeld sonplase en waterinfrastruktuur te belê omdat staatsverval ’n werklikheid is. Ons sal aanhou veg om te help om bestaande dienste volhoubaar te bestuur, maar ons sal ook moet begin bou aan iets nuut waarin ons mense kan belê om selfstandig en onafhanklik van die staat volhoubaar voort te bestaan.”

Soortgelyke plasings