|

Mooi, mooier, Moot! Só sit AfriForum se Moot-gemeenskap saam skouer aan die wiel

AfriForum se Groter Moot-tak, -buurtspan én -buurtwag het die afgelope maand gepatrolleer, gesnoei, gekap én opgeknap – alles met die oog op ’n skoner, veiliger én mooier Moot.

Lede van dié AfriForum-buurtspan het meer as 30 ure lank met bossiekappers in die hand openbare terreine skoon gesny en meer as 160 ure lank kettingsae ingespan om die meer hardnekkige snoeiwerk mee kaf te draf waar veral bome plek-plek al skade aan infrastruktuur aangerig het. Daarbenewens het dié toegewyde span werkers ook opknappingswerk by twee van AfriForum se noodwaterpunte in die Moot gedoen en ekstra krane geïnstalleer om die dienslewering wat by dié waterpunte gelewer word, selfs meer seepglad te laat verloop.

Die plaaslike Groter Moot-buurtwag het op hulle beurt binne net een maand 91 patrollies, oftewel ’n gemiddeld van nagenoeg drie patrollies per dag, gery. Hiertydens het buurtwaglede ’n totaal van 1 156 km oor ’n tydperk van meer as 141 ure afgelê.

“Dié patrollie-ure kom neer op sowat ses dae se ononderbroke patrollies deur ’n span AfriForum-buurtwaglede wat vrywillig ure agter die stuurwiel spandeer om deur middel van sigbare patrollies die veiligheid van die Moot se inwoners te help verseker,” verduidelik Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord. “Syfers soos dié spreek van die Groter Moot-tak en -buurtwag se toegewydheid tot die bevordering van ’n skoner, veiliger en gesonder Moot. Hul ure en ure se harde werk het al soveel suksesse en ’n belangrike positiewe invloed op die Moot tot gevolg gehad en beklemtoon watter krag daar opgesluit is in gemeenskappe wat saam werk.”

Soortgelyke plasings