|

Mislukkings van NVG-administrasie laat kinderverkragter op vrye voet

’n Kinderverkragter is nou al vir meer as twee jaar op vrye voet en aktief in die samelewing bedrywig aangesien sy appèlsaak teen sy skuldigbevinding nooit na die Pretoriase Hooggeregshof verwys is nie. Dit het ingryping van AfriForum se privaatvervolgingseenheid geverg om die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te kry om hul werk te doen. Die saak sal nou op 17 Oktober aangehoor word en hopelik afsluiting bring vir die slagoffer en haar familie. Die verkragter word nie genoem nie aangesien dit die slagoffer kan blootstel wat ten tyde van die oortreding minderjarig was.

Die saak het ’n tendens na die voorgrond gebring waar sake wat vir appèl verwys word net vergeet word en dit dan misdadigers toelaat om op vrye voet te loop terwyl geregtigheid doodeenvoudig nie vir die slagoffers geskied nie. In hierdie saak is die verkragter op 3 Junie 2022 in die Pretoriase Streekshof skuldig bevind aan verkragting en tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis. Hy is borg toegestaan hangende sy appèlaansoek.

Die slagoffer, wat nou 21-jaar-oud is, was die verkragter se stiefdogter. Sy het haar ma in 2018, toe sy 16-jaar-oud was, vertel dat sy oor ’n  tydperk van vier jaar deur haar stiefpa verkrag is. Dit het begin toe sy 12-jaar-oud was. Sy het die saak by die polisie aangemeld en die saak is uiteindelik verhoor wat gelei het tot die verkragter se skuldigbevinding.

Die slagoffer se ma het AfriForum se privaatvervolgingseenheid in November 2023 genader aangesien daar geen vordering was met die saak nadat die verkragter appelleer het nie. Die privaatvervolgingseenheid het op 11 November ’n skrywe aan die senior staatsaanklaer gerig. In Februarie vanjaar het die NVG uiteindelik gereageer en gesê dat hulle die appèlrekord op 21 November ontvang het – ’n week ná die privaatvervolgingseenheid antwoorde geëis het – en dat die saak ter rolle geplaas sou word.

Die slagoffer se ma se dat hulle as ’n familie eindelose probleme met die strafregstelsel ervaar het, waaronder dat die dossier twee keer “verlore” geraak het wat daartoe gelei het dat haar dogter herhalende indringende mediese ondersoeke moes deurmaak. “Ná hierdie ervaring begryp ons heeltemal hoekom slagoffers oorweldig voel en ontmoedig word om geregtigheid te soek. Die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n massiewe verskil in ons saak gemaak. Selfs ná ’n skuldigbevinding en vonnisoplegging is dit frustrerend om hom op borgtog vrygelaat te sien terwyl hy wag vir sy appèlproses om voort te gaan. Dit dra by tot die gevoel dat geregtigheid nog nie werklik geskied het nie. Die feit dat daar sedert 2022 nog niks gebeur het nie voel soos ’n voortdurende mislukking om die slagoffer se veiligheid te verseker. Dit maak mens briesend dat hierdie sake so uitgerek word, dit laat die slagoffers magteloos voel. Met die betrokkenheid van AfriForum se privaatvervolgingseenheid sien ons uiteindelik ’n lig aan die einde van die tonnel en dat geregtigheid uiteindelik sal geskied,” sê sy. Voorts noem sy ook dat sy vir ewig dankbaar sal wees vir die privaatvervolgingseenheid se ingryping.

Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê dat hierdie net nog ’n voorbeeld is van hoe die strafregstelsel slagoffers van misdaad in die steek laat. “Die Nasionale Vervolgingsgesag moet tred hou met sy sake en verseker dat sake binne ’n redelike tyd vir appèl ter rolle geplaas word. Die regsbeginsel, geregtigheid vertraag is geregtigheid ontneem, is hier gepas. Die versuim om sake behoorlik te bestuur sê vir ons dat daar talle ander misdadigers is wat vrylik rondbeweeg terwyl slagoffers nie geregtigheid kry nie,” sê Bateman.

Volgens Bateman wil die slagoffer, haar familie en die privaatvervolgingseenheid graag die oortreder se naam bekendmaak, maar wette wat misdaadslagoffers beskerm verhoed hulle om dit te doen. “Die ironie is dat dieselfde wette wat ontwerp is om misdaadslagoffers te beskerm ook vir misdadigers ’n geleentheid gee om dan in die openbare oog beskerm te wees. Die privaatvervolgingseenheid glo dat die publiek die reg het om kennis te dra van seksuele misdadigers se identiteit om sodoende hulself en hul kinders te beskerm.”

Die appèlsaak sal op 17 Oktober 2024 in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor word.

Soortgelyke plasings