| |

Misdaadstatistiek skets donker prentjie, samewerking met burgerlike samelewing nou noodsaaklik

Die misdaadstatistiek vir die eerste kwartaal van die 2024/2025-boekjaar skets ’n onheilspellende prentjie oor hoe die toekoms van Suid-Afrika gaan lyk as die minister van Polisie, Senzo Mchunu, nie daartoe verbind is om ernstige geweldsmisdade in die kiem smoor nie. Die feit dat kontakmisdade met 3 831 gevalle vanaf 149 806 in dieselfde tyd verlede jaar toegeneem het, beklemtoon die belangrikheid daarvan dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kragte saamsnoer met burgerlike veiligheidstrukture soos AfriForum se 177 buurtwagte.

Hierdie gemeenskapsgedrewe veiligheidstrukture bewys herhaaldelik hoe hulle op voetsoolvlak help misdaad bekamp. In een van hierdie gevalle het die AfriForum-buurtwag in Brits die toneel van ’n plaasaanval in Noordwes beveilig, die polisie se hulp ingeroep en die plaaslike AfriForum-traumaberadingsvrywilligers ontbied om die slagoffers by te staan. Met behulp van die SAPD se kontrolepunte het AfriForum se veiligheidstrukture gehelp om vier vermeende plaasaanvallers in hegtenis te neem en die gesteelde goedere teruggevind.

“Hierdie voorval is een van vele voorbeelde van die impak wat samewerking tussen burgerlike veiligheidstrukture en die SAPD kan hê. Hierdie samewerking kan van besondere waarde wees in plaasmoorde en voorvalle van veediefstal. Dis bemoedigend dat die minister saam met die boeregemeenskap wil werk om hierdie soort aanvalle die hoof te bied,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Benewens die bystand wat AfriForum op landelike gebiede bied, het die burgerregteorganisasie se buurtwag in Roodepoort ook verlede maand ’n helpende hand aan die polisie verleen toe hy op ’n moord gereageer het. Dié buurtwag het vinnig sy lede gekoördineer om die misdaadtoneel te beveilig totdat die SAPD opgedaag het. Hierdie vinnige reaksie het enige kontaminasie of verlies van bewyse verhoed. Die polisie het selfs toegegee hoe belangrik AfriForum se hulp was vir die sukses van die ondersoek.

“Dit is duidelik dat die huidige misdaadkrisis ’n meer formele en gestruktureerde vennootskap tussen die SAPD en burgerlike veiligheidstrukture noodsaak. Die sukses van AfriForum se buurtwagte toon dat hierdie soort samewerking ’n kragtige magvermenigvuldiger kan wees. Om dit ten volle te verwesenlik, moet daar egter ’n amptelike formalisering van hierdie vennootskappe wees,” sê Broodryk.

AfriForum doen ’n beroep op die minister van Polisie om konstruktief saam met alle belanghebbendes, insluitend AfriForum, te werk om die misdaad wat Suid-Afrika al dekades lank teister, te pak. Die veiligheid van ons gemeenskappe behoort die hoogste prioriteit te geniet en slegs deur eenheid en samewerking kan ons hoop om die gety teen misdaad te keer.

Soortgelyke plasings