‘Minister Sisulu, gehalteonderwys behoort die fokus te wees, nie ras nie’
Minister Lindiwe Sisulu se bekendmaking dat ’n verpligte rassesamestelling van 50/50 swart en wit kinders as voorwaarde vir skole se voortbestaan vandeesweek by die ANC se nasionale beleidskonferensie bespreek sal word, is net nog ’n simptoom van die jammerlike mislukking van die regerende party. Dit is een van vele benoude spronge wat gemaak word om die ANC se wanprestasies te probeer verdoesel terwyl ander sondebokke voorgehou word.
Volgens Sisulu lui die ANC se vryheidsmanifes dat Suid-Afrikaners een volk is. Dit kom voor asof sy die manifes selektief interpreteer en lees, want dit verklaar ook dat alle nasionale groepe gelyke regte moet hê om onder meer hul eie tale te gebruik, asook hul eie volkskultuur en gebruike te bevorder. Nêrens verklaar dit dat eenheid slegs deur die afdwinging van homogeniteit bereik kan word nie. Die nasionale leuse is immers !ke e: /xarra //ke: wat volgens die land se amptelike regeringswebwerf “eenheid in diversiteit” beteken.
Sisulu se kommentaar dat kleur op kinders afgedwing word, is ironies, gesien in die lig dat sy juis die afdwinging van ras voorstel. Verder is daar die ANC se vele rasgebaseerde beleide, soos dié van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging. Minister Sisulu het in die verlede self ook al ’n vername rol in dié verband gespeel deur haar poging om tydens die Covid-19-inperkings bystand vir klein, mikro- en mediumgrootte-ondernemings te beperk op grond van die besighede se swart eienaarskap – ’n stap wat AfriForum in die howe beveg het.
Wedersydse erkenning en respek kan nie afgedwing word nie, maar moet verdien word. Demografiese manipulasieprojekte soos dit wat Sisulu vir skole voorstel, sal eerder polarisasie verder aanwakker. Gemeenskappe het baie goeie verhoudinge onderling, maar politici wakker verdeeldheid aan deur uitsprake en aksies soos hierdie wat die raskaart en stereotipering gebruik om die aandag van die regerende party se mislukkings af te lei. Verder hou die party daarvan om randfigure uit die wit gemeenskap voor te hou asof hulle optrede die algemene norm is en asof sulke swak gedrag nie ook in ander gemeenskappe voorkom nie. Diegene wat fouteer, moet binne die raamwerk van die wet verantwoordbaar vir hulle dade gehou word en die publiek moet kan onderskei tussen hulle en die oorgrote meerderheid wat nie sulke gedrag pleeg nie en dit nog minder goedkeur.
Die ongemaklike feit wat die ANC probeer verberg, is dat basiese onderwysbehoeftes steeds agterweë bly. Volgens die 2030 Reading Panel-verslag sal dit die land tagtig jaar neem voordat alle tienjariges met begrip sal kan lees. Die Equal Education Law Centre se verslag oor onderpresterende skole dui steeds aan dat sowat 80% van die skole in die land steeds wanfunksioneel is. Dit is maar enkele voorbeelde van krisisse in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel wat bydra tot die huidige amptelike jeugwerkloosheidsyfer van 47,8% ‒ die onderwysstelsel lewer nie jong Suid-Afrikaners af wat indiensneembaar is nie. Dit het nie met ras te make nie, maar met kwessies soos die aanbod van moedertaalonderrig, die inhoud van leerplanne en tot watter mate wanpresterende onderwysers aanspreeklik gehou word.
Sisulu se uitsprake dui verder ’n jammerlike gebrek aan kennis en ’n sin vir uitvoerbaarheid aan. Die demografie van die skoolgaande bevolking is nie 50/50 swart en wit nie. Nog minder is alle kinders in die land of swart, of wit. Waar pas ander rasse in? Alle skole bied ook nie dieselfde onderrig aan nie – daar is skole wat fokus op ’n bepaalde behoefte (byvoorbeeld vir kinders met sig- of gehoorprobleme). Ander skole bied onderrig met ’n bepaalde godsdienstige inslag aan – dink maar aan Joodse, Moslem of Christelike kerkskole. Dan is daar weer skole met unieke aanbiedinge, met minder algemene vakke soos ballet en robotika.
Vir maatskaplike stabiliteit wat beter onderlinge verhoudinge insluit, is toegang tot uitnemende onderrig ’n voorvereiste en dit is waarop gekonsentreer moet word. Minister Sisulu en die ANC se subkomitee oor maatskaplike transformasie (waarvan sy die voorsitter is) bewys net weer dat ideologie en eie belange veel swaarder by hulle weeg as die welstand en toekoms van die land se mense.