|

Minister moet weier om Onteieningswet te onderteken, eis AfriForum

Ná aanleiding van die ondertekening van die Onteieningswet deur pres. Cyril Ramaphosa, doen AfriForum nou ’n beroep op die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, om te weier om medeondertekenaar van dié omstrede wet te wees. Indien die minister ook die Onteieningswet se proklamasie onderteken, laat hy Ramaphosa en die ANC toe om ander partye in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) te koöpteer om vernietigende ANC-beleid uit te voer. Dit maak van die RNE ’n totale bespotting.

Ingevolge artikel 101(2) van die Grondwet, moet ’n skriftelike besluit van die president ook deur ’n minister onderteken word indien daardie besluit ’n funksie raak wat aan die minister opgedra is. Daarsonder kan die promulgering van ’n wet nie plaasvind nie.

Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, sê dis die DA-minister se plig om te weier om ’n medeondertekenaar van die Onteieningswet te wees.

“Indien die minister die Onteieningswet se inwerkingtreding proklameer as medeondertekenaar sal hy bevestig dat die ANC die opposisiepartye in die RNE ten volle geabsorbeer en geneutraliseer het. Hierdie gaan dus ’n kritiese toets vir die RNE wees,” sluit Van Zyl af.

AfriForum het dit aan die regering duidelik gemaak dat die organisasie regstappe sal doen om private eiendomsreg te beskerm indien die regering eiendomme teiken vir onteiening sonder vergoeding. AfriForum moedig ook die publiek aan om hul ondersteuning agter die organisasie te sit by www.onteiening.co.za.

Soortgelyke plasings