Meer as 10 000 betoog teen gewraakte Bela-wet
Los ons kinders en skole uit!
Dít was die duidelike boodskap van die ongeveer 10 000 mense wat vandag na die Voortrekkermonument opgeruk het om teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) standpunt in te neem.
Mense het van sovêr as Potchefstroom, Frankfort en Volksrust gekom in wat beskou word as die grootste optog sedert 1994 en hulle boodskap was duidelik: Ons wil hierdie nie vir ons kinders hê nie.
Jahno Botha, wat al die pad van Volksrust gekom het, is van mening dat Afrikaans in elke skool moet wees. “Dis wie ons is, ons sal nooit verengels nie.”
Die protesoptog, gelei deur AfriForum, die Solidariteit Beweging, Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), was teen die huidige formaat van dié wet se bepalings oor openbare skole se toelatings- en taalbeleide.
’n Memorandum met eise is aan John Steenhuisen, leier van DA, en Pieter Groenewalt, leier van die VF Plus, as ondersteuners van die protesaksie, oorhandig waarna ’n vreedsame tog vanaf die Voortrekkermonument tot by Vryheidspark aangepak is. Hier is ’n kopie van die memorandum – wat deur meer as 40 organisasies onderteken is – aan Gayton McKenzie, minister van Sport, Kuns en Kultuur, as verteenwoordiger van die Presidensie oorhandig.
Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, probeer hedendaagse kolonialiste soos Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, en Matome Chiloane, die LUR vir Onderwys in dié provinsie, om Afrikaanse skole soos die kolonialiste van ouds te verengels.
“Hulle sal nie slaag nie. Afrikaans sal bly. Wat ons vandag hier doen, is uit liefde. Dit is nie soos Lesufi en kie uit haat vir ander groepe nie. Dit is uit liefde vir ons kinders. Dit is uit liefde vir ons skole. Dit is uit liefde vir ons taal, ons erfenis en die land,” het Buys gesê.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het voor die protes gesê mense is kwaad, want ons kinders word geteiken deur ’n wet wat Afrikaanse skole aanval en eintlik ons kulturele voortbestaan bedreig.
“Protes is al taal wat die ANC verstaan en die meer as 10 000 mense stuur die boodskap duidelik uit. Ons is almal hier om te sê los Afrikaans uit en los ons skole uit. Moedertaalonderrig moet uitgebrei word vir almal – dit is alle kinders se reg,” het Kriel gesê.
Volgens hom speel Afrikaans ’n kernrol en is hierdie ’n stryd om kultuuroorlewing.
“Vandag is deel van die groter onderhandelingsproses. Ons is almal deel van die dag omdat ons besorg is oor ons kinders se toekoms. Elke tree wat vandag gestap word, is vir ons kinders en vir die toekoms. Oor die afgelope 30 jaar is geen Afrikaanse skool gebou nie en die skole wat oorgeskakel is in dubbel- of parallelmediumskole het heeltemal verengels,” het Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, gesê.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die Bela-wet die rooilyn wat nie oorgesteek moet word nie. “Ons sê dit vir al die politieke partye in die RNE sodat hulle kan verstaan hoe sterk die gemeenskap voel. Meer as 10 000 mense het vandag gesê hulle sal nie toelaat dat hulle kinders se toekoms gevat word nie.”
Hermann het politieke partye ook versoek om hul deelname aan die RNE te heroorweeg indien die onderhandeling wat tans gevoer word oor twee klousules van die Bela-wet nie slaag nie.
’n Afvaardiging van die koninklike familie van die Griekwas, asook die koning van die Khoisan het ook die optog bygewoon en volgens King Khoisan is hulle baie besorg oor die taal en die toekoms van hul kinders “Hierdie wetgewing is ’n grief teen ons en die geslagte wat ná ons kom. Ons kan nie sien hoe die regering hierdie wetgewing deur laat gaan nie. Ons is geheel en al teen hierdie wet.”