| |

Meer as 1 000 AfriForum-buurtwaglede ruk op om Suidstreek te beveilig

AfriForum-buurtwagte in die Suidstreek het die afgelope naweek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF), sekuriteitsmaatskappye en ander veiligheidsrolspelers ’n massapatrollie gehou.  Dié rolspelers het op 18 Oktober patrollies in hul onderskeie gebiede gery om polisiëringsigbaarheid op te skerp. Die patrollies het om 16:00 begin en tot 06:00 Saterdag geduur.

Altesaam 1 008 AfriForum-patrolleerders en 1 050 patrolleerders van ander instansies het aan die patrollie deelgeneem. Hierdie lede het gebruik gemaak van 1 131 voertuie en saam is altesaam 29 043 km afgelê om gebiede te beveilig. Tydens die patrollie is daar op 48 voorvalle gereageer – van inhegtenisnemings vir die besit van dwelms, huisbraak en die besit van ongelisensieerde wapens tot motoriste wat vasgetrek is omdat hulle onder die invloed van alkohol bestuur.

AfriForum se 61 veiligheidstrukture in die Suidstreek (Wes- en Oos-Kaap) het gedurende AfriForum se nasionale patrollie ook van die geleentheid gebruik gemaak om hul kommunikasienetwerk te toets, met ander veiligheidsrolspelers te skakel en gebeurlikheidsplanne en beheerstelsels te toets.

“AfriForum plaas vanjaar, meer as ooit, klem daarop om met ander veiligheidsrolspelers te skakel om misdaad doeltreffend te bekamp. Die ou gesegde lui dat veiligheid nie suksesvol bereik kan word wanneer daar in silo’s gewerk word nie. AfriForum se Suidstreek-strukture reik dus met hierdie soort patrollies ’n hand uit na alle ander veiligheidsrolspelers om ’n gees van samewerking te kweek,” sê David Olivier, AfriForum se veiligheidshoof vir die Suidstreek.

Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke. SMS “Buurtwag” na 45340 (R1) om jóú omgewing te beveilig of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings