Mbete-sindroom: Is klassieke konserwatisme of liberale individualisme ons uitkoms?
Deur Barend Uys
“I have no me outside of the collective. … I do not have a personal space to do things, you know, personally, as an individual, no.”
Hierdie stelling is gemaak deur Baleka Mbete, voormalige speaker van die nasionale vergadering, tydens ’n onderhoud met Mehdi Hasan van Al Jazeera wat Vrydag in Londen plaasgevind het. Uit die reaksie van die gehoor was dit duidelik dat Mbete se antwoorde ’n reuseverleentheid vir die Suid-Afrikaanse regering, maar veral die regerende party was. Die soms skokkende antwoorde, wat weliswaar die gehoor se monde laat oophang het, laat die voormalige IT-hoof van die SAID, Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, se TV-blapse na kinderspeletjies lyk.
Die hele onderhoud was deurspek met ’n totale gebrek aan die aanvaarding van enige vorm van aanspreeklikheid vir die uitdagings wat die land en sy burgers tans beleef. Mbete het selfs daarop gesinspeel dat die syfers van die VN en die Wêreldbank nie vertrou kan word nie. Die enigste voordeel van Mbete se woorde is dat dit die wêreld ’n blik gegee het op die ware, naakte ANC. Die skare het opgemerk dat die keiser kaal is – en ek is bevrees die keiser self besef dit egter steeds nie.
Nou is die vraag: Watter ideologiese begronding kan aangewend word om hierdie totale gebrek aan aanspreeklikheid en verantwoordelikheid deur senior leiers te voorkom?
Aangesien Mbete duidelik van alle vryhede (en daarom verantwoordelikhede) ontneem is deur die sosialistiese kollektief, is ’n mens se eerste reaksie dalk om die liberale individualisme as ’n oplossing aan te gryp. ’n Sterk, onafhanklike persoon sal immers nooit sê nie: “Ek het geen self buite die kollektief nie.” Die werklikheid is egter dat geen geïsoleerde persoon, van hoeveel talent en inbors ook al, doeltreffend weerstand kan bied teen ’n gesentraliseerde, totalitêre magsblok nie. Vryswewende, ontkoppelde persone maak juis die vorming van ’n totalitêre bestel makliker, omdat daar nie ander magsblokke is wat die mag van die staat balanseer nie.
Die antwoord lê daarom in ’n samelewing wat gevorm word deur die vestiging van sterk gemeenskapsinstellings (skole, kerke, burgerlike organisasies, ens.). Hierdie instellings van die gemeenskap is, volgens Edmund Burke, om drie redes belangrik. Eerstens versprei hulle mag oor die gemeenskap en balanseer staatsmag op dié wyse. Tweedens gee dit vorm en betekenis aan mense se lewens deur die daarstelling van lewensritme en die skepping van oorvleuelende identiteite en persoonlike lojaliteite. Derdens word kennis en wysheid deur instellings vasgevang en bewaar. Só ’n samelewing van instellings is soos ’n kosbare erflating (ek dink byvoorbeeld aan die hoeveelheid tyd, geld en sweet wat ons voorouers in skole en kerke belê het) wat ’n mens ontvang en dan verplig voel om te bewaar, en indien moontlik te verbeter, voordat mens dit aan die volgende geslag oordra.
’n Suksesvolle sosiale orde wat op hierdie manier saamgestel is, skep nie net die ruimte vir regte en vryhede van elke persoon nie, maar lê ook pligte op hulle – en saam met pligte kom verantwoordelikhede en aanspreeklikheid. Dit is dus klassieke konserwatisme eerder as liberale individualisme wat ’n meer sinvolle raamwerk bied om die uitdagings van ons tyd aan te pak.
Edmund Burke het ook geskryf dat enige vorm van mag verantwoordelikheid meebring, en dat voordeel en verpligting hand aan hand loop. Dalk is dit hoog tyd dat Afrikaners (en ook die ANC) lees wat hy geskryf het.