Matriekuitslae sal wel publiseer word ná AfriForum en ander in die hof wen
Die 2024 matriekuitslae sal wel gepubliseer word ná AfriForum en ander belanghebbendes die Inligtingsreguleerder (IR) se dringende aansoek om die Departement van Basiese Onderwys (DBO) te probeer verhoed om dit wel te publiseer vandag in die Hooggeregshof in Pretoria met kostes van die hand gewys is.
Die IR het in sy aansoek aangevoer leerlinge se privaatheid sal geskend word indien matriekuitslae wel gepubliseer word soos die DBO in Desember verlede jaar voorgeneem het om te doen. Die DBO is egter in 2022 deur die hof genoop om wel matriekuitslae te publiseer ná die departement toe gepoog het om nie die matrieks van 2021 se uitslae te publiseer nie. AfriForum en ander rolspelers het toe die hof genader om die departement te dwing om wel uitslae bekend te maak. Die regter het toe bevind dat niemand se privaatheid geskend sou word as eksamennommers sonder name gepubliseer word nie.
“AfriForum hou vol dat dit in openbare belang is dat hierdie inligting in die media gedeel word.Dit is een van die redes waarom ons destyds hierdie aansoek gebring het en vanjaar weer gereed was om met regsaksie teen die Inligtingsreguleerder voort te gaan. Ons is verheug dat die hof ons in 2022 gelyk gegee het in hierdie argument en nog meer bly dat die matrieks vanjaar weer hulle uitslae op hierdie wyse sal kan bekom,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake.
Die hofuitspraak van 2022 is steeds in plek en die DBO het daarvolgens nie ’n ander keuse as om matriekuitslae wel te publiseer nie en is dus dié keer aan dieselfde kant van die saak as AfriForum. Ongeag die hofbevel van 2022 het die IR steeds besluit om in aanloop tot vandag se hofverrigtinge die DBO te beboet omdat laasgenoemde aangekondig het dat hulle wel uitslae soos in die vorige drie jaar sal publiseer.
Regter Ronèl Tolmay het vandag in haar uitspraak gesê dringendheid ontbreek in die IR se aansoek aangesien die huidige formaat om matriekuitslae te publiseer reeds vir drie jaar in plek is. Voorts het sy gesê daar is geen bewyse voor die hof gebring dat matrieks se privaatheid op enige wyse geskend word nie. Die IR moet ook onder meer AfriForum en Maroela Media se hofkostes betaal.
“AfriForum is baie bly oor die uitspraak. Ons voel dis ’n groot oorwinning vir die matrikulante van 2024 en ons hou duim vas dat hulle tevrede is met hul uitslae,” het Bailey ná afloop van die hofsaak gesê.