Matriekslaagsyfer verbloem nie krisis in openbare onderwys
Deur Alet Rademeyer
Daar is vandag landwyd groot opgewondenheid onder derduisende leerlinge wat verlede jaar matriek geskryf het.
Hoewel die slaagsyfer van die nasionale senior sertifikaateksamen (NSS) 75,1% is, maan ontleders en onderwyskundiges dat dit nie as ’n weerspieëling van die welstand van die land se onderwysstelsel gesien moet word nie.
Die openbare onderwysstelsel is steeds in ’n krisis gedompel en nog groter rampe dreig ná pres. Jacob Zuma se ondeurdagte aankondiging van gratis hoër onderwys. Zuma het dié belofte gemaak om polities te oorleef en nou hou die hele land asem op oor wat binnekort op die land se universiteitskampusse gaan gebeur as derduisende studente daarheen gaan stroom in die hoop om toegelaat te word om gratis te studeer.
Universiteite Suid-Afrika (Usaf), die liggaam wat 26 instellings verteenwoordig, het reeds aangedui dat instellings nie op registrasiedag sal toelaat dat studente bloot net instap en opdaag nie. Die vrese vir opstande en betogings op kampusse is boonop vererger met die verregaande aanmoediging van Julius Malema, leier van die EFF, dat studente wat geslaag het en nie klasgeld kan bekostig nie, bloot net by instellings moet gaan aanmeld.
Verskeie universiteite het daarop gewys dat aansoeke om toelating reeds verlede jaar gesluit het en dat daar net beperkte plek vir nuwelingstudente is. Altesame 153 610 matrikulante het met toelating tot graadstudies geslaag, maar dit is duidelik dat instellings van voorkeur hulle nie eens almal sal kan akkommodeer nie.
Verskeie kundiges met wie Forum Nuus gepraat het, is dit eens dat kampusonrus nie vanjaar uitgesluit kan word nie in die lig van die onhaalbare verwagtinge wat die regering skep.
Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het matrikulante wat in 2017 hulle skoolloopbaan suksesvol voltooi het, hartlik geluk gewens. “Hul prestasie is te danke aan hulle harde werk en aan onderwysers wat ondanks vele uitdagings in die onderwyssektor, steeds eilande van uitnemendheid handhaaf.”
Sy het gesê hoewel die sogenaamde voortdurend verbeterende matriekslaagsyfer elke jaar gevier word, moet daar ook gefokus word op dié groep leerlinge wat nooit eens matriek gehaal het nie.
Luidens die departement van basiese onderwys se statistieke het 1 186 011 leerlinge hulself in 2006 in graad 1 bevind. Hiervan het net 626 155 matriek voltooi.
Bailey het gewys op die fenomenale groei in leerlinge in die privaatsektor waarvan 112 130 die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se eksamen afgelê het. Die slaagsyfer vir die groep is 98,76%.
Bailey meen die groei dui op die toename in privaat instellings sowel as Suid-Afrikaners se stygende wantroue in die land se openbare onderrigstelsel.
Soos Bailey wys kenners daarop dat vanjaar se verbeterde slaagsyfer nie probleme soos die hoë uitvalkoers, swak dissipline by sekere skole en onderwysers, aanvegbare onderwyswetsontwerpe, disfunksionaliteit van meer as 80% van openbare skole en inmenging deur amptenary by funksionerende skole verbloem nie.
Boonop is dit steeds ’n werklikheid dat ondanks die feit dat die regering die meeste van sy begroting aan onderwys bestee, Suid-Afrika se uitslae, gemeet aan internasionale standaarde, steeds skokkend laag bly.
Bailey meen totdat die regering nie volle verantwoordelikheid vir ’n swak onderwysstelsel aanvaar nie, sal die jaarlikse viering van ’n sogenaamde verbeterde matriekslaagsyfer misplaas bly en word ’n onaanvaarbare hoë aantal jongmense jaarliks in die steek gelaat.