|

Massas water voorsien om inwoners sonder water te help

AfriForum se takke in die Hoëveld van Mpumalanga het bande saamgesnoer om inwoners te help wat deur die onlangse waterkrisis geraak is. Elf dorpe in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se krane het vanaf 21 tot 29 Januarie opgedroog nadat ’n transformator onklaar geraak het. Dit het veroorsaak dat die hele Rand Water-netwerk vanaf die Bloemendal-pompstasie – wat water aan dorpe in die Govan Mbeki-munisipaliteit verskaf – leeggeloop het.

Die AfriForum-tak in Bethal het verskillende remedies gebruik om inwoners te ondersteun. Daar is staatgemaak op die noodwaterpunt by die plaaslike AC Kerk wat soos oudergewoonte mense met water gehelp het. Daar is ongeveer 60 000 liter water deur dié punt verskaf. Daar is ook verskillende tenkwaens gereël met boere wat die water kostevry beskikbaar gestel het.

AfriForum se Middelburg-tak het gehelp om vyf ekstra watertenks aan te koop en het die tenks aan die Bethal-gemeenskap geskenk. Hierdie tenks is by die Gereformeerde Kerk Bethal opgerig om ’n tweede noodwaterpunt vir gemeenskapslede te word. Dié punt is ook deur die boere volgemaak en het in die tydperk wat die water af was 80 000 liter water voorsien.

Verder het AfriForum ’n koördinerende rol gespeel om die munisipaliteit se tenkwaens te help opvul deur boere om hulp te vra. Hierdie tenkwaens het verskeie klinieke en noodsaaklike punte soos tronke en die polisiestasies gehelp. Daar is meer as 100 000 liter water op hierdie manier aan die gemeenskap gelewer.

AfriForum het ook verseker dat die tehuise se water nie opraak nie. Daar is tenkkoppelings by Palmoord-aftreeoord betaal wat hul kapasiteit lig om meer water te stoor. Dié tenks word uit ’n boorgat op die perseel gevoed. By Silwerjare-tehuis is daar ongeveer 50 000 liter water voorsien gedurende die paar dae wat die water af was.

AfriForum se Ermelo-tak het 1 000 liter drinkwater aan die Laerskool Marietjie Van Niekerk geskenk. Dié skool het ’n atletiekbyeenkoms gehou wat afgestel moes word as daar nie genoeg drinkwater vir die deelnemers en toeskouers sou wees nie.

Inwoners word versoek om AfriForum in Mpumalanga te ondersteun. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings