|

Mangaung sukkel, maar AfriForum wikkel met vullisverwydering in Bloem

Vullisverwydering jaag maandeliks tot R600 uit Bloemfonteiners se sak omdat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se wisselvallige lewering van dié diens die meerderheid inwoners genoop het om dubbele kostes aan te gaan sodat privaat diensverskaffers hul vullis verwyder. AfriForum takel sedert 2020 dié probleem deur weekliks ’n alternatiewe vullisverwyderingsdiens aan inwoners te verskaf en die gemeenskap by te staan met hul aansoeke vir die kansellasie van die metro se vullisverwyderingsdiens sodat hulle eerder voortaan van privaat diensverskaffers gebruik kan maak.

Die burgerregteorganisasie het vandeesweek opnuut klagtes van inwoners ontvang oor die onbetroubare vullisverwydering in Bloemfontein. AfriForum het weereens ingespring om inwoners se vullis te verwyder wat deur die munisipaliteit oorgestaan is. AfriForum het al by verskeie geleenthede mense se vullis verwyder omrede die munisipaliteit soms vir maande lank nie die diens gelewer het nie.

Die sukkelende Mangaung-metro gaan al jare lank gebuk onder swak dienslewering en in 2022 is die metro onder nasionale administrasie geplaas oor ernstige finansiële en diensleweringsmislukkings. Dit nadat die munisipaliteite in 2019 deur die Vrystaatse provinsiale regering onder verpligte provinsiale administrasie geplaas is en aangesê is om ’n streng finansiële herstelplan te implementeer. Die metro het egter versuim om dit te doen.

Die munisipaliteit het ook onlangs nóg ’n gekwalifiseerde oudit ontvang waarin verskeie probleme by die metro uitgelig is. Die ouditeur-generaal het tot die gevolgtrekking gekom dat die munisipaliteit miljoene rand verkwis het op agterstallige betalings aan verskaffers in die vorige boekjaar. Bykans R200 miljoen se onreëlmatige uitgawes is ook in hierdie tyd deur die metro aangegaan.

“Weens die huidige stand van die munisipaliteit se finansies is dit onwaarskynlik dat die munisipaliteit in die toekoms vullisverwyderingsdienste op ’n volhoubare wyse kan verskaf,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die Sentraalstreek.

Die volgehoue swak dienslewering het AfriForum verlede jaar genoop om meer as 650 lede te help om aansoeke vir die kansellasie van die metro se vullisverwyderingsdiens in te dien sodat hulle eerder voortaan van privaat diensverskaffers gebruik kan maak. AfriForum het ook vroeër vanjaar regstappe teen die munisipaliteit gedoen om die metro te dwing om dié diens van inwoners se munisipale rekening te verwyder. AfriForum is in gesprek met sy regspan oor hierdie aangeleentheid en moedig inwoners aan om met die burgerregteorganisasie in verbinding te tree hieroor.

“Dit is onregverdig dat diegene wie ’n diens wil laat staak – veral wat deur ’n onbetroubare munisipaliteit soos Mangaung gelewer word – forseer word om dubbele kostes aan te gaan net om te verseker dat hulle vullis wel verwyder word. Inwoners het die reg om hul munisipale vullisverwydering te laat staak en dié diens van hul munisipale rekening te laat verwyder,” sê Grobbelaar.

Die burgerregteorganisasie beplan om eersdaags, as deel van sy vullisverwyderingsdiens in Bloemfontein, ’n herwinningsdiens te begin sodat vullis nie op onwettige vullisterreine beland en die omgewing verder negatief beïnvloed nie.

Volg dié skakel en dien vandag nog jou aansoek in en sluit aan by AfriForum se vullisverwyderingsinisiatief: http://artikels.afriforum.co.za/wat-doen-ons-2/vullisverwydering-2/vullisverwydering/.

Soortgelyke plasings