Water
|

Mangaung-munisipaliteit skuld Bloemfonteiners volhoubare oplossings vir waterkrisis

AfriForum se Bloemfontein-tak eis antwoorde van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit nadat inwoners van Bloemfontein vir bykans ’n maand lank sonder voldoende watertoevoer was. Bloemfonteiners se krane het teen Maandagmiddag 27 Januarie uiteindelik weer skoon drinkwater gehad nadat AfriForum die munisipaliteit vroeër dié dag op terme geplaas het weens die voortslepende waterkrisis.

In ’n brief wat op 27 Januarie aan die Manguang-munisipaliteit gestuur is, voer AfriForum aan dat inwoners in verskeie Bloemfonteinse woonbuurte en informele nedersettings die afgelope drie weke ’n gebrek aan water – met min tot geen antwoorde of oplossings van die munisipaliteit oor ’n werkbare aksieplan nie – ervaar het. Die onlangse reën het ook veroorsaak dat die nodige watersuiwering nie kon plaasvind nie as gevolg van die sluk en modder in die water. AfriForum het daarop aangedring dat die sporadiese watertoevoer onmiddellik herstel word en geëis dat die munisipaliteit daadwerklik optree en volhoubare oplossings implementeer.

“Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit moet eienaarskap van hul probleme vat en nie net korttermynoplossings toepas nie. Dit is ook nie die eerste voorval waar probleme met die turbines, wat watersuiwering en die gereelde monitering van watervlakke ’n uitdaging maak, ondervind word nie. Onderhoud en opgraderings aan infrastruktuur moet gereeld plaasvind, wat uiteindelik probleme op die langtermyn aansienlik sal verminder,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.

Die waterkrisis het ’n ernstige impak op inwoners se lewensgehalte gehad, aangesien basiese higiëne en toegang tot skoon drinkwater in die gedrang was. AfriForum dring aan dat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit dringend optree om hierdie humanitêre krisis eens en vir altyd op te los en om hul grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners na te kom.

Die Manguang-munisipaliteit het ontvangs van die brief erken en aangevoer om spoedig terugvoer te gee.

AfriForum sal voortgaan om druk toe te pas en alle beskikbare regsmiddele aan te wend om te verseker dat Bloemfontein-inwoners se regte beskerm word.

Soortgelyke plasings