|

Malema pleit onskuldig in saak oor afvuur van vuurwapen

Julius Malema, leier van die EFF, het vandag in die streekhof in Oos-Londen onskuldig gepleit op aanklagte wat verband hou met die afvuur van ’n aanvalsgeweer in Julie 2018.

AfriForum het in Augustus 2018 klagtes teen Malema en Adriaan Snyman ingedien. Snyman was op die dag van die beweerde insident ’n veiligheidswag getaak om Malema te beskerm.

Malema word beskuldig van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, die besit van onwettige patrone en die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude gebied sonder om die nodige voorsorgmaatreëls te tref om seker te maak mense se lewens en eiendom word nie in gevaar gestel nie.

Dis baie belangrik dat hy besef dat hy nie verhewe bo die reg is nie en as hy hom soos ’n krimineel gedra gaan die regstelsel hom soos ’n krimineel hanteer.

Snyman word daarvan aangekla dat hy ’n vuurwapen en patrone aan iemand gegee het wat dit nie mag hê nie.

’n Video het vroeër die lig gesien waarin dit lyk of Malema ’n vuurwapen in die lug afvuur tydens die EFF se vyfde verjaardagvieringe by die Sisa Dukashe-stadion in Mdantsane naby Oos-Londen. Die beweerde voorval het op 18 Julie 2018 plaasgevind.

Drie getuies het vandag verwys na ’n koeëldoppie wat hulle onder oë gehad het wat ná afloop van die verjaardagvieringe by die stadion gevind is.

Gerhardus Swart, ’n kaptein in die SAPD met meer as 30 jaar se ondervinding, het die doppie as bewysstuk in ontvangs geneem. “Dit het gelyk soos ’n doppie van ’n geweer, nie die van ’n pistool of rewolwer nie,” het hy tydens sy getuienis gesê. “Die doppie is vermoedelik van ’n vuurwapen soos ’n AK47 of R1-geweer.”

Kaptein Gerhardus Swart van die SAPD

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê die afvuur van ‘n vuurwapen is ’n baie ernstige saak. “Julius Malema is ’n politikus en invloedryke persoon en dis baie duidelik dat hy optree asof hy verhewe is bo die reg. Dis baie belangrik dat hy besef dat hy nie verhewe bo die reg is nie en as hy hom soos ’n krimineel gedra gaan die regstelsel hom soos ’n krimineel hanteer.

“Ons dink die aanklaer het sover baie goed gedoen. Ongelukkig was daar aanvanklik nie veel vordering in die saak nie totdat adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid betrokke geraak het. Ons is bly vervolging vind wel plaas en ons sal die saak verder monitor om seker te maak dat geregtigheid wel geskied.”

Soortgelyke plasings