|

Madonsela & kie se matriekuitslae-reaksie bevlek land se geestesgesondheidkwessie

Weens die negatiewe konnotasie wat aan die term “geestesgesondheid” kleef, is dit ’n onderwerp wat dikwels afgeskiet of net heeltemal vermy word.

In talle kulture en huishoudings, veral in ons eie land, is dit steeds ’n taboe-onderwerp. Onkunde, ongevoeligheid en die misbruik van die term veroorsaak dikwels dat mense hul oë wil rol wanneer gesprekke daaroor gevoer word.

Die manier waarop talle politici, akademici en vakbonde gereageer het op die debat rondom die bekendmaking en publisering van die matriekklas van 2021 se resultate is een só voorbeeld waar die misbruik van die term niks help om die stigma wat daaraan gekoppel word af te breek nie. Inteendeel, dit maak ’n bespotting daarvan.

In reaksie op AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies se dringende hofaansoek om die Departement van Basiese Onderwys se besluit om nie vanjaar se matriekuitslae in die media te publiseer nie teen te staan, het die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, gesê die “geestesgesondheid en privaatheid” van matriekleerlinge is belangriker as die vermaaklike en finansiële voordeel wat die media uit die publisering sal trek. ’n Argument waarteen geen redelike mens sekerlik sal stry nie.

Hoe, waar en waarom presies sal iemand ’n leerling se eksamennommer gaan probeer naspeur veral in ’n land wat sinoniem is met die frase “system offline”?

Sy het luidens mediaberigte ook gesê dat indien deursigtigheid en openbare verantwoordbaarheid die rede vir die publisering is, die data gepubliseer moet word sonder die name of eksamennommer van leerlinge. Tans word die uitslae van openbare skole uitsluitlik met leerders se eksamennommer gepubliseer, wat dit feitlik onmoontlik maak om iemand te identifiseer. In dié verband het regter Anthony Millar die applikante gelyk gegee dat leerlinge nie geïdentifiseer word deur hul eksamennommer te publiseer nie. Dit klink of Madonsela haarself weerspreek. Wat se “data” kan gepubliseer word sonder enige inligting?

Voormalige DA-LP, Phumzile van Damme, argumenteer wel dat hoewel slegs die eksamennommer in die media gepubliseer word, dit egter “maklik opgespoor” kan word en leerlinge wat gedruip het gevolglik daardeur verneder kan word. Sy het ook teen die hofuitspraak uitgevaar en gesê hoewel die publisering van die uitslae dalk aanvaarbaar was in ’n samelewing wat “voorheen” nie privaatheid en geestesgesondheid belangrik geag het nie, het tye verander en dat “nuwe generasies gesê het dat hul geestesgesondheid belangriker is”.

Hoe, waar en waarom presies sal iemand ’n leerling se eksamennommer gaan probeer naspeur veral in ’n land wat sinoniem is met die frase “system offline”? Die land se jongmense het egter ook self geen geraas gemaak oor die publisering van hul uitslae nie, ons sou hard en duidelik dit gehoor en gevoel het as hulle het (vra maar vir dié wat graad moes probeer vang tydens #FeesMustFall).

Phumzile van Damme. Foto: Twitter

Nóg ’n groep wat op die wa probeer spring het om geestesgesondheid eerder as onbevoegdheid voor te hou oor waarom die uitslae nie gepubliseer moet word nie, is die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersvakbond (Sadou). Dié vakbond het op Twitter geskryf dat dié hofsaak na hul mening ook oor die beskerming van mediahuise se sakebelange eerder as dié van leerlinge en hul geestesgesondheid gaan.

Sadou, wat verlede jaar aan ’n reuse wegblystaking in KwaZulu-Natal deelgeneem het in ’n tyd waarin skole en kinders reeds gesukkel het om te herstel van verlore skooldae weens COVID-19, blyk natuurlik nou baie van kinders se geestesgesondheid te weet en watter optrede dit kan kelder…

Die feit dat die minister en haar departement nie eens gereageer het op AfriForum en Maroela Media se aansoek nie, bewys dat hul net ’n kans gevat het deur te skuil agter geestesgesondheid en die Popi-wet. Hulle het ook hul voorspelbare resep as verskoning vir hul eie onbevoegdheid gebruik deur voor te gee dat hulle leerlinge se belange op die hart dra. 

Geestesgesondheid is g’n grap nie en die fisiese en ekonomiese gevolge van die pandemie het talle kinders en volwassenes, veral dié wat reeds aan angsversteuring of depressie ly, se geestesgesondheid verder belemmer. Dis tyd dat amptenare, politici en veral dié wat selektief hul monde uitspoel wanneer daar ’n hutsmerk is om te volg, mooi dink voor hulle dit as verskoning wil misbruik om nie hul pligte na te kom nie of selfs net onkundige uitlatings te maak.

Soortgelyke plasings